Vers n dag - 25 Januarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (Vir enige terugvoer of voorstelle, kontak ons op
DAG 10: NUWE HOOP ... VIR ’n GEBROKE HUWELIK
Deur Benescke Janse van Rensburg
Verskeie lesers het oor die afgelope paar dae geskryf dat hulle huwelike tans deur ’n moeilike tyd gaan. Sit jy ook in so situasie? Hier is Corlea du Plessis se getuienis wat kan help:
Corlea: “Op my agterstoep waar ek gesit het, het ’n gevoel van magteloosheid my oorweldig toe ek my man laatnag die huis hoor instrompel. Ek het instinktief geweet dat hy na werk ’n draai by die kroeg gemaak het. Tot op daardie punt het ek alles in my vermoë probeer om ons huwelik te red. Dit het nie gewerk nie. My rug was teen die muur en ek het met ’n steekpyn in my hart besef dat ons huwelik heel moontlik op die rotse was.
Vir jare het ek en my man vol lewens gelei met werk, die kinders en huistake. Sonder dat ons dit besef het, het ons uitmekaar begin groei. My gevoel van eensaamheid het veroorsaak dat ek alles en almal om my probeer beheer en manipuleer het. Dit het my man al verder van my af weg gestoot.
Ons is in ’n stadium Europa toe gereis. Wat sommige gedink het ons tweede wittebrood sou wees, het in ’n tragedie geëindig. Ons het deur die strate van die romantiese stede gestap met niks om vir mekaar te sê nie. Dit was ’n seer tyd. Met ons terugkoms in Suid-Afrika het my man uitgetrek en gesê hy wil skei. Hy het later teruggekom, maar niks het werklik tussen ons verander nie.
Ná die aand op die stoep het my man weer uitgetrek. Ek was alleen. Met trane wat oor my wange gevloei het, het ek een aand op my bed in my kamer voor God gebreek. Ek het vir Hom gesê dat ek weier dat die vyand die oorhand in ons huwelik kry en dat ek nie my kinders in ’n gebroke huis wil grootmaak nie. Ek het ervaar dat God aan my openbaar het dat my stryd nie teen vlees en bloed was nie, maar teen ’n onsigbare vyand wat huwelike haat en wat ons sin wou vernietig. Ek moes my geestelike wapens optel en Satan herinner dat Jesus reeds die oorwinning aan die kruis behaal het.
Ek het boeke oor geestelike oorlogvoering begin lees en iemand het Stormie Omartian se boek, The Power of praying wife aan my gegee wat my baie gehelp het. Vir die eerste keer het ek ontdek dat ek vir ’n muur van vuur as beskerming vir my huwelik kon bid. Ook dat ek kon bid dat God my man se lus vir alkohol sou wegneem en aan hom ’n onverstaanbare honger na Hom sal gee en ook die regte mense op die regte oomblik oor sy pad stuur om inspraak in sy lewe te hê.
Ons het mekaar min gesien nadat my man uitgetrek het en soms het dit vir my gevoel asof my gebede kragteloos was omdat niks verander nie. Tog het ek nie moed opgegee nie. Een spesifieke dag het ek na die lied van Michael W Smith geluister met die refrein: “One day every knee will bow and every tongue confess He is Lord.” Ek wou glo dat dit ’n belofte van God aan my was vir my man se redding, maar ek was nie seker nie. Ek het niemand van die belofte vertel nie, maar aanhoudend na die lied geluister en met geloof gebid. Kort hierna het ons predikant vir my gebid en na afloop van die gebed gesê: “Ek ervaar dat God vir jou ’n lied gegee het. Hy sê dat jy aan die woorde van die lied moet vashou.” Ek was omgeboul. God het tog my gebede gehoor! Ek het vuriger as ooit vantevore gebid.
Ses maande nadat my man uitgetrek het, was hy terug by die huis. Hy wou hê ons moet ons huwelik herbou. My voorwaarde was dat ons dit dié keer saam met God sou doen. Hy het ingestem en ons het ’n nuwe pad saam begin. Eers later sou ek uitvind dat God heeltyd besig was om in my man se lewe te werk toe ek gevoel het asof my gebede kragteloos was. Wat vir hom voorheen lekker gesmaak het, was skielik bitter (die alkohol), mense het sy pad gekruis wat inspraak in sy lewe gehad het wat hom anders oor sake laat dink het en hy het my vertel dat hy skielik ’n begeerte gehad het om tyd saam met God te spandeer. Ek het besef dat my gevoel dat my gebede kragteloos was inderwaarheid die vyand was wat my wou laat twyfel om op te hou bid terwyl God elke gebed gehoor het.
Vandag, na jare, is ons steeds gelukkig getroud. My man is my beste vriend. Hy beskerm my fisies en emosioneel en ek het geen begeerte meer om hom te probeer beheer of manipuleer nie. God se orde vir ’n huwelik is die enigste wat ware huweliksgeluk verseker. As jy jou man eer en respekteer sal hy ’n begeerte hê om jou te beskerm. Hoe meer hy jou beskerm en laat veilig voel, hoe minder wil jy hom manipuleer of beheer. Ek gee alle eer aan God. Hy het ons gebroke huwelik herstel, ons kinders in die proses beskerm en aan ons gewys dat niks vir Hom onmoontlik is nie!”
Corlea is reg. In Jeremia 32:27 lees ons immers God se woorde: “Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?” Kan ek jou aanmoedig om aan te hou om op Hom te vertrou vir watter deurbraak jy ook al benodig? Hy sal jou nooit verlaat of in die steek laat nie!
Vader God, baie dankie dat U steeds vandag wonderwerke doen. Ek bring (noem area waar jy hulp benodig) vandag voor U en vra ook vir ’n wonderwerk in my lewe. Lei my met wysheid en versterk nuut my geloof in u vermoë om ’n deurbraak te bewerkstellig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Sien gerus ’n foto van Corlea en haar man Charl op die sosiale netwerk, Fbook se STORIES VAN HOOP bladsy.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms.