Vers n dag - 28 Januarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na
DAG 11: NUWE HOOP... OM DIE WÊRELD TE VERANDER
Deur Benescke Janse van Rensburg
Droom jy daarvan om ’n verskil in jou omgewing en in ons land te maak? En as jy vandag sou sterf, sal jy trots wees op jou nalatenskap?
Op een van die Anglikaanse biskoppe wat in die Westminister-abdy in Londen begrawe is, se grafstene verskyn hierdie woorde: “Toe ek jonk en vry was en my verbeelding geen perke geken het nie, het ek gedroom hoe ek die wêreld wou verander. Soos ek ouer en wyser geword het, het ek agtergekom dat die wêreld nie sal verander nie. Ek het my droom effens ingekort en besluit om net my land te verander. Hiermee het ek geen sukses gehad nie. In my herfsjare het ek nog een laaste poging aangewend om dinge te verander. Ek het min illusies oorgehad en besef dat ek tevrede sou moes wees om net my gemeente, of selfs net my gesin, te verander. Hulle wou niks daarvan weet nie. Nou, terwyl ek op my sterfbed lê, begryp ek, te laat: As ek maar net by myself begin het, sou ek dalk deur my voorbeeld my gesin en ’n paar gemeentelede kon verander. Met hulle inspirasie en bemoediging sou ons dalk ons land kon help verander. En wie weet, miskien sou ons selfs iets aan die wêreld kon doen.”
Soms raak ons so weggevoer deur ’n groot droom in ons harte, dat ons nalaat om die seisoen waarin ons tans is effektief te benut. In Sagaria 4:10 is Serubbabel besig om die fondamente van die tempel te lê. Dit lyk na ’n eenvoudige onbelangrike werk. Tog sien God dit as belangrik. Luister na sy woorde in vers 10: “Die werk wat nou aan die gang is, lyk miskien klein en nie waffers nie. Maar moenie die waarde daarvan onderskat nie.”
God ken die drome in ons harte. Hy ken ook ons elkeen se toekoms. Wanneer ons begin om in Hom te rus, sal ons veel minder stres in ons lewens beleef en meer geleenthede om ’n verskil te maak rondom ons raaksien. Kom ons hou ons oë dus in hierdie week oop en gebruik elke geleentheid wat Hy oor ons pad stuur om ’n verskil te maak. Só mag ons dalk ’n verskil in ons omgewing, ons land en wie weet, later selfs in die wêreld maak! Sterkte.
Vader God, baie dankie vir die wete dat U my toekoms en ook my drome ken. Help my om vandag geleenthede te identifiseer en te benut om ’n verskil in ander se lewens te maak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms.