Vers n dag - 29 Januarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na
DAG 12: NUWE HOOP ... OMDAT SY GENADE VIR ONS GENOEG IS
Deur Benescke Janse van Rensburg
Verskeie lesers het na Vrydag se getuienis waarin Corlia getuig het hoe God hulle huwelik gered het, vir my e-posse gestuur. Een spesifieke leser skryf: “Ek sit in ’n geweldige moeilike situasie. My man drink baie. Dit pla my, want toe ons mekaar jare gelede ontmoet het, was hy ’n geheelonthouer. ’n Tyd gelede was ons in ’n ernstige motorongeluk omdat hy te veel pille gedrink het. Ek praat met God oor die saak, maar dit voel vir my asof ek geen antwoorde kry nie. Ek voel lewensmoeg en desperaat. Help asseblief!”
Voel jy ook soos hierdie leser lewensmoeg en asof die uitdagings in jou lewe dreig om jou te oorweldig? Wanneer ons ons geloof en vertroue in God plaas, bevind ons onsself terselfdertyd in die moeilikste en bangste, maar ook die mees bevrydende plek in die wêreld. Dis moeilik, want dit bly ’n uitdaging om uit die boot te klim en in geloof op die water te begin stap. Tog is dit bevrydend aangesien ons dan aan God die geleentheid gee om sy grootheid aan ons te demonstreer – sonder dat ons probeer handjie bysit.
Het jy al beheer oorgegee of probeer jy nog self veg? In 2 Korintiërs 12:9 word bevestig dat God aan ons die nodige krag sal gee vir elke uitdaging in ons lewens: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” En in Jesaja 40:31 beloof Hy: “...dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.”
En hoe kry ons vrede in ons harte te midde van storms wat rondom ons woed? In Filippense 4:6-7 gee Paulus raad: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
Kom ons herinner onsself dus vandag daaraan dat God almagtig is. Hy kan jou verlore vriende en familie tot inkeer bring; Hy kan aan jou wysheid gee om jou finansiële situasie beter te hanteer; Hy kan jou huweliksmaat se hart verander; en Hy kan jou vrees wegneem en aan jou vrede gee wat alle verstand te bowe gaan. Kyk dus vir ’n slag boontoe en beleef hoe Hy nuwe hoop deur jou are laat bruis. Onthou, Hy hoor elke gebed en sal jou nooit teleurstel nie. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat geen situasie ooit vir U te groot of te moeilik is om om te draai nie. Help my om vandag my hoop nie in wêreldse dinge te soek nie, maar in U. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms.