Vers n dag - 24 Januarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na
DAG 9: NUWE HOOP ... WANNEER JY ’n VREDEMAKER WORD
Deur Benescke Janse van Rensburg
Ná gister se gedeelte oor vergifnis het heelwat lesers weer vrae ingestuur oor die tema. Ek beantwoord graag hierdie een:
Vraag: “Hoe moet ek my eie woede en ook iemand anders se woede teenoor my beter hanteer? Ek besef dit verhoed dat ons vrede maak?”
Antwoord: Jy kan nie die ander persoon se woede blus nie, maar jy kan wel kies hoe jy jou eie woede gaan hanteer. In Mattheus 5:9 sê Jesus: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” Die vraag is: Is jy ’n vredemaker of iemand wat boek van die kwaad hou? Is jy bereid om jou trots in jou sak te steek en eerste uit te reik om om vergifnis te vra (selfs al voel jy, jy het alle reg om kwaad te bly) of kies jy om te wag dat die ander persoon eerste uitreik, wetende dat dit dalk nooit sal gebeur nie?
’n Goeie voorbeeld van iemand wat die waarde om ’n vredemaker te wees, geken het, is die voormalige Amerikaanse president, Abraham Lincoln. Toe dit tydens die Amerikaanse Burgeroorlog duidelik was dat Lincoln se Unioniste sou wen, het ’n joernalis aan hom gevra hoe hy die suidelike state se rebelle sou behandel. Sy antwoord was: “Asof hulle nooit weggebreek het nie.” Die joernalis was verslae: “Maar meneer die president, is dit nie veiliger om jou vyand te vernietig nie?” het hy gevra. “Heeltemal reg,” het Lincoln geantwoord. “’n Mens vernietig mos jou vyande as jy vriende van hulle maak.”
’n Vredemaker is nie iemand wat oor hom of haar laat loop of konfrontasie vermy ter will van vrede nie. Dit is eerder iemand wat met wysheid na ’n situasie kan kyk, al die opsies oorweeg en dan doen wat die beste vir alle betrokke partye is. Om dus ’n vredemaker te wees, beteken om God se karakter, liefde en genade aan die wêreld te demonstreer. Dít terwyl ons terselfdertyd sy opdragte uitvoer. In Romeine 12:18 staan geskryf: “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” En ook in Hebreërs 12:14: “Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir 'n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.”
Kan ek jou dus aanmoedig om volgende keer wanneer jy in die werkplek, by die huis, in jou huwelik of in ’n vriendskap voel asof jy alle reg het om te skree, te skel of om daardie ander persoon behoorlik te laat verstaan hoe verontrief jy is, eerder vir ’n oomblik terug te tree en die Heilige Gees vir wysheid te vra. Hoe anders sou dit nie gewees het as God nie geduldig en vol liefde teenoor ons was as ons oortree het nie? Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U genadig en vol liefde teenoor my bly wanneer ek vir die soveelste keer oortree. Help my asseblief om ’n vredemaker te word wat U karakter aan die mense rondom my demonstreer. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
REGSTELLING: Skrifverwysing in Dag 6 (21 Januarie 2013) se gedeelte: Mattheus 24:35 en nie Mattheus 24:25 nie.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms.