Vers n dag - 23 Januarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na
DAG 7: NUWE HOOP... MET VERGIFNIS
Deur Benescke Janse van Rensburg
’n Hele paar lesers het oor die afgelope paar dae gevra dat ek iets oor vergifnis moet skryf. Hier is ’n paar vrae uit die e-posse wat ek ontvang het:
Leser 1: “Hoe vergewe jy iemand wat jou en jou kind so benadeel het dat julle lewens onherroeplik weens die persoon se aksies verander is?”
Jy kan nie die verlede verander nie. Wat jy wel kan doen, is om te kies hoe jy vandag gaan optree. As mens te lank tob oor iets wat jou geweldig seergemaak het in die verlede, ontstaan ’n vrees vir vergifnis. Hoe? Ons begin vrees dat as ons daardie persoon wat ons te nagekom het vergewe, hy of sy skotvry gaan wegstap terwyl ons steeds die gevolge van sy of haar dade moet dra. Hoe langer jy dus wag, hoe moeiliker word dit om te vergewe omdat jou onvergewensgesindheid in bitterheid omskakel wat jou hele wese stadig maar seker vergiftig.
Wanneer ons egter kies om te vergewe en die oordeel aan God oor te laat, bevry Hy ons terwyl Hy terselfdertyd die saak namens ons beveg. In Psalm 50:6 lees ons: “Die hemel getuig: ‘God is regverdig, en Hý is die regter.’” En in Jesaja 54:17 staan geskryf: “Ek laat geregtigheid aan hulle geskied, sê die Here.”
Stap een in die genesingsproses is dus om daardie persoon vry te spreek. Daarna kan die verwerk-gedeelte begin. En al is dit soms seer om deur die verskillende emosies te werk, kan ek jou verseker dat as jy God deel van die proses maak, Hy jou in staat sal stel om sterker en wyser aan die ander kant uit te stap. Gee Hom dus ’n kans om namens jou te veg en jou te genees. Hy sal jou nooit teleurstel nie.
Leser 2: “Ek het al baie foute in my lewe gemaak wat ek voor God bely het. Hoewel ek dink God het my al vergewe, voel ek soms nog skuldig en sukkel ek soms om myself te vergewe. Het jy enige raad?”
Wanneer jy jou sonde met ware berou voor God bely, vergewe Hy jou. Hy dink nie weer daaraan nie. In Psalm 103:12 staan geskryf: “So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.” En in Jesaja 44:22 sê God: “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke.”
Moet dus nie wag vir ’n spesifieke gevoel in jou hart nie. Aanvaar God se vergifnis in geloof en jy sal beleef hoe vryheid en vreugde jou lewe kom vul. Die vyand hou egter nie daarvan nie en hy sal enigiets probeer om jou konstant aan die verlede en die spesifieke daad te herinner sodat jy skuldig moet voel.
As hy dit weer probeer doen, herinner hom gerus daaraan dat Jesus klaar vir ons die oorwinning en vryheid aan die kruis behaal het: “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Johannes 8:36). Los dus die skuldgevoelens agter en stap met vryheid die toekoms tegemoet.
Leser 3: “Hoe moet ek bid dat God iemand se harde hart teenoor my sag maak?”
God is in staat om enige persoon se hart hard of sag te maak. Ons sien dit immers waar Hy Farao se hart teenoor die Israeliete tydens die tien plae in Egipte verhard en versag het. In Spreuke 21:1 lees ons ook: “Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here; soos ’n stroom water lei Hy dit soos Hy verkies.” En in Esegiël 36:26 sê God: “Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee.”
As jy in ’n situasie sit waar iemand ’n wrok teen jou koester, begin bid dat God namens jou deur sy Heilige Gees in daardie persoon se hart werk. Hy kan sy of haar perspektief op die bepaalde situasie en ook teenoor jou totaal verander. Onthou, God ken daardie persoon beter as wat jy hom of haar ooit sal ken. Bid dus ook vir wysheid dat jy die regte woorde op die regte tyd sal gebruik om die saak uit te sorteer. Niks is vir God onmoontlik nie. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U my sonde vergewe wanneer ek met ’n opregte hart na U toe kom. Help my om nie kwaad met kwaad te vergeld nie, maar om die oordeel aan U oor te laat. Help my ook om enige seer uit die verlede effektief te verwerk sodat ek weer met vryheid en vreugde kan leef. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms.