Vers n dag - 22 Januarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na
DAG 7: NUWE HOOP... IN GOD SE WOORD
Deur Benescke Janse van Rensburg
Die gholfbal en die Bybel. Wat het hierdie twee uiteenlopende dinge in gemeen?
Die gholfbal: My man is ’n kranige gholfspeler en van tyd tot tyd lê daar verdwaalde gholfballe in ons huis rond. Omdat ek nie self gholf speel nie, het ek tot sowat ’n week gelede, nie veel waarde aan hierdie balle geheg nie. Tans is ek 32 weke swanger (8 maande) wat beteken dat rugpyn en -spasmas ’n gereelde verskynsel is. Die pyn en ongemak is veral erg as ek snags van lê-posisie verander wat veroorsaak dat ek dan vir ’n paar minute wakker lê voordat ek weer aan die slaap raak. My man bedink toe ’n plan: plaas die gholfbal agter jou rug op die spasma en rol daarop om die spasma uit te druk. Dit werk! Skielik weet ek van elke gholfbal in ons huis en gaan my nagrus met heelwat minder pyn en ongemak gepaard!
Die Bybel: Die meeste van ons het meer as een Bybel in die huis. Die vraag is egter: is dit steeds vir jou ’n waardevolle besitting of het dit vir jou soos die verdwaalde gholfballe geword omdat jy die Bybel so lank gelede opgetel en gelees het? Wanneer ons nalaat om tyd saam met God te spandeer en sy woord te bestudeer, begin ons met pyn en ongemak in ons gees tob oor uitdagings in ons lewens - hetsy finansieel, in jou huwelik, in die werkplek of met jou gesondheid. Dít terwyl God se woord, wat tot ons beskikking is, gevul is met beloftes wat ons in elke situasie bemoedig en met wysheid en hoop vul. Wanneer ons egter die waarde van hierdie beloftes in ons lewens begin ontdek, word dit net soos die gholfbal – van onskatbare waarde!
God se Woord is lewend en kragtig. In Hebreërs 4:12 lees ons: “Dit (die woord van God) is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.” En in 2 Timoteus 3:16-17 lees ons: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek . . .”
Ook weet ons dat God se beloftes vasstaan en dat Hy nooit verander nie. In Spreuke 30:5 staan geskryf: “Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil.” En in Mattheus 24:25 sê Jesus: “Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”
Wanneer jy dus weer ongerief en pyn in jou gees ervaar, tel die woord van God op en vra die Heilige Gees om jou na die regte gedeelte te lei. Jy mag verbaas staan oor hoe vinnig die “spasmas” in die vorm van uitdagings uit jou lewe verdwyn en met hoeveel meer rustigheid jy sekere situasies hanteer omdat jy weet wat God daaroor sê. Sterkte.
Vader God, baie dankie vir u woord. Lei my deur u Heilige Gees om te verstaan en te onthou wat ek lees sodat U my daaraan kan kom herinner wanneer dit moeilik in my lewe gaan. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms.