Vers n dag - 21 Januarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na
DAG 6: NUWE HOOP... MET ’n NUWE PERSPEKTIEF OP 2013
Deur Benescke Janse van Rensburg
’n Nederige, goeie vrou het op ’n dag huilend by die rabbi in haar gemeenskap opgedaag. Toe die rabbi gaan sit om na haar te luister, het sy dadelik weggeval: “Rabbi, ek en my man en my kinders moet in een vertrek leef en ons val behoorlik oor mekaar se voete. Ek kan dit nie meer hanteer nie!” Die rabbi het geknik. “Koop ’n paar hoenders,” vas sy voorstel. Die vrou het met ’n frons na hom gekyk. Hoe sou dié raad hulle help? Tog het sy die rabbi se raad gevolg.
’n Tydjie later was die vrou terug by die rabbi. Dié keer was sy meer ongelukkig. “Rabbi, die hoenders kekkel en kraai van vroeg tot laat. Die kinders skree. En ek en my man is regtig besig om van ons koppe af te raak. Asseblief, het u nie vir ons raad nie?” Weer het die rabbi geknik. “Koop ’n bokooi.” Dié keer het die vrou se frons op haar voorkop verdiep. Sou ’n bokooi hulle werklik help? Uit desperaatheid het die vrou egter die rabbi se raad gevolg.
Die volgende dag was sy terug by die rabbi. “Rabbi, u raad vra te veel van my. Ek is nie heilige genoeg nie! Wat staan my te doen?” Die keer het die rabbi geglimlag en haar aangeraai om die bokooi en die hoenders te verkoop.
Daardie Sabbat, na die kerkdiens, het die vrou die rabbi met ’n glimlag bedank. “Rabbi, dit was uitstekende raad! Sonder die bokooi en die hoenders is die lewe skielik wonderlik. Ons geniet die stilte en die baie ruimte. Dit het nog nooit so goed met ons gegaan nie!”
Bevind jy jouself tans ook in ’n situasie vir jou frustreer of ongemaklik laat voel? Dit bly fassinerend hoe ons sal kla oor ons lang werksure totdat ons ’n werklose persoon ontmoet wat al vir maande sukkel om werk te kry. Of ons kla oor ’n huweliksmaat of kind se vreemde gewoontes net totdat ons met iemand gesels wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het en nooit weer daardie “vreemde gewoontes” sal kan beleef nie. Of ons kla oor die selluliet op ons bene of die ekstra gewig rondom die maag net totdat ons iemand ontmoet sonder bene of iemand wie se maag weens ’n siekte verwyder moes word.
Wanneer ons vaskyk in die ongerieflike of ongemaklike situasies in ons lewens, kyk ons die dinge mis waarvoor ons wel nog dankbaar kan wees. In 1 Tessalonisense 5:18 lees ons: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.” En in Efesiërs 5:20: “Julle behoort aan ons Here Jesus Christus en julle moet altyd vir God ons Vader dankie sê vir alles.” (Die Bybel vir Almal)
Besef jy dat elke uitdagende of frustrerende situasie ’n geleentheid is waarin ons karakter gevorm word? Kom ons kies dus om God in hierdie nuwe jaar te vra om ons te help om met nuwe oë na moeilike situasies in ons lewens te kyk. Nie net gaan dit ons help om die lewe meer te geniet nie. Ons mag dalk begin om God te dank vir daardie aanvanklike ongemaklike situasies waaroor ons aanvanklik aanhoudend gekla het! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U vir my planne van voorspoed en nie teëspoed het nie. Help my om te midde van uitdagende situasies dankbaar te wees vir wat ek steeds het wat goed is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms.