Vers n dag - 18 Januarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (Vir enige terugvoer of voorstelle, kontak ons op
DAG 5: NUWE HOOP ... AS JY OP HOOPVERLOOR SE VLAKTE STAAN
Deur Benescke Janse van Rensburg
In Oktober verlede jaar het Harry Vermaak, ’n trokbestuurder van die Oos-Kaap vroegoggend uit Port Elizabeth na Plettenbergbaai vertrek. Rondom 02:00 het hy die Van Stadensbrug gekruis. Toe hy die enkele voertuig op die brug sien staan het hy onmiddellik onraad bemerk. Hier is Harry se getuienis:
Harry: “Ek het met my trok langs die motor op die brug gestop en die toeter ’n paar keer gedruk. Daar was egter geen reaksie van die motoris nie. Om daardie tyd van die oggend op die verlate brug uit te klim was ’n waagstuk. In my hart het ek egter geweet dat die man hulp benodig. Ek het ’n gebid vir God se beskerming en uitgeklim.
Op daardie oomblik het die ander motor se deur ook oopgeswaai en ’n bleek man met wilde oë het uitgeklim. Vrees het my beetgepak. Dit het kompleet gelyk asof die man besete was. Ek wou in my trok terugspring, maar vrees het my verlam.
‘Wat soek jy hier?’ het die man gevra. ‘God het my gestuur om jou te red,’ het ek geantwoord. Die man het sy kop geskud. ‘Nee, 03:00 is my tyd wat ek van die brug sal afspring.’ My maag het gedraai. ‘Dit mag jou tyd wees,’ het ek myself hoor sê, ‘maar dit is nie God se tyd nie. Hy het my gestuur om jou te kom help.’
Die man het na sy motor afgebuk, ’n selfmoordbrief uitgehaal en dit na my uitgehou. Ek het sy arm vasgegryp. ‘Wag net ’n bietjie...’ het ek begin toe sy foon skielik begin lui. Sy histeriese dogter aan die ander kant van die foon het na haar pa gesoek. Ek het gesê ons staan op die Van Stadensbrug en haar pa wil afspring. Sy het die foon vir haar ma gegee. Skielik was ek in ’n tweestryd: die vrou op die foon wou weet wat aangaan en die man aan die ander kant wie se arm ek vasgehou het, wou van die brug afspring. Ek het die vrou verseker dat ek die polisie sou bel en die gesprek beëindig.
Ek het die man se magteloosheid verstaan. ’n Paar jaar gelede wou ek ook my eie lewe neem, maar God het ingegryp en my lewe gered. Ek het dit vir die man vertel. ‘Het jy jou kinders lief?’ het ek gevra. ‘Meer as wat jy ooit sal kan besef,’ was sy antwoord. Met hierdie vraag was hy vir ’n oomblik rustiger en ek het die polisie gebel. Tien minute later was hulle op die toneel en kon die man na die polisiekantoor geneem word.
In die polisiekantoor was daar trane toe die man se gesin wat op hom gewag het hom omhels. My trane het self ook oor my wange gevloei. In daardie oomblik het ek besef dat God my lewe eens gered het en aan my nuwe hoop gegee het sodat ek, ’n gebroke mens, daardie aand in Oktober ’n instrument in sy hand kon wees om ’n ander man se lewe te red.”
Harry is reg. God het vir ons planne van voorspoed en nie teenspoed nie en Hy wil ons daagliks innerlik nuut maak en aan ons hoop gee. In 2 Korintiërs 4:16-17 lees ons: “Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.”
In ons diepste nood is God die naaste aan ons. Moet Hom nie miskyk en hoop verloor nie. Reik uit na Hom. Hy sal jou deurdra en ook jou lewe kom nuut maak! Sterkte.
Vader God, dankie dat ek kan weet dat U elke gebed van my hoor. Verwyder asseblief alle vrees in my lewe en vul my met nuwe krag en hoop en die versekering dat U van my weet. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Kyk gerus na ’n foto van Harry Vermaak op die sosiale netwerk, Fbook.
** As jy ’n getuienis het wat jy met ons wil deel, stuur dit gerus na
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms.