Vers n dag - 17 Januarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na
DAG 4: NUWE HOOP ... MET BETER VRIENDSKAPPE IN 2013
Deur Benescke Janse van Rensburg
Die geweervuur het steeds in die vêrte opgeklink toe die soldaat uitasem voor die Luitenant gaan staan. “Luitenant, my vriend het nie uit die gevegsone teruggekeer kamp toe nie. Ek dink hy is gewond. Ek vra verlof om hom te gaan haal.”
“Versoek geweier, soldaat,” het die Luitenant gebulder sonder om twee maal te dink. Hy wou nie hê dat sy manskappe hulle lewens onnodig in gevaar moes stel nie. Die kans dat die soldaat wat nog nie in die kamp was nie steeds leef, was buitendien baie skraal.
Die soldaat het egter die Luitenant se bevel verontagsaam en terugehardloop na die slagveld om sy vriend te gaan haal. Op pad terug, met sy vriend se lyk in sy arms, is hy self dodelik verwond. Die Luitenant was woedend. “Ek het jou mos gesê jou vriend is dood. Nou het ek julle al twee verloor!” Met meer deernis het hy verder gepraat. “Sê my, was dit nou die moeite werd om jou lewe te waag om ’n lyk uit te bring?”
Die sterwende man het geglimlag terwyl hy na die offisier kyk. “O ja, Luitenant. Toe ek by my vriend kom het hy nog geleef. Toe ek by hom buk het hy vir my gesê: ‘Ek het geweet jy sou kom.’”
Is jy ’n vriend of vriendin waarop ander kan steun? Koester jy jou vriendskappe sodat jy mense het om op wie jy kan steun? In Spreuke 18:24 lees ons: “Maats kan jou breek, maar daar kan ook 'n vriend wees wat nader is as 'n broer.” En in Johannes 15:12-13 sê Jesus: “Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.”
Kom ons maak 2013 ’n jaar waarin ons onsself nie langer isoleer nie, maar waarin ons moeite doen met ons vriendskappe. Kom ons word vriende op wie ander kan steun en kies vriende wat ’n positiewe effek op ons lewens het om mee tyd te spandeer. Jy mag dalk verbaas staan oor hoeveel God deur jou in ander se lewens kan vermag, maar ook hoe Hy terselfdertyd sy liefde aan jou kan bewys deur goeie vriende in jou lewe! Sterkte.
Vader God, baie dankie vir vriendskappe. Help my om ’n vriend of vriendin te word waarop ander kan steun, maar stuur ook asseblief die regte mense oor my pad wat ek kan bevriend wat ’n positiewe effek op my lewe sal hê. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms.