Vers n dag - 16 Januarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na
DAG 3: NUWE HOOP... OMDAT GOD JOU DIEPSTE HARTSBEGEERTES KEN
Deur Benescke Janse van Rensburg
Die sesjarige Kelly-Bianca Holmes het grootoog die groep mense dopgehou wat besig was om meubels van die trokkie voor hulle woonstel af te tel. Vir die eerste keer in ’n lang tyd sou sy, haar twee broers en haar pa daardie aand nie op ’n dubbelgevoude kombers as matrasse op die vloer van hulle eenslaapkamer woonstel hoef te slaap nie, maar op ’n gemaklike bed met ’n matras.
Nadat Kelly-Bianca se ma die gesin vir ’n ander man verruil het, het haar pa sy bes gedoen om op sy karige salaris as sekuriteitswag vir haar en haar twee boeties ’n nuwe lewe op te bou. Die las van sy verantwoordelikheid, sy kinders se agterstallige skoolgelde en sy uitdaging om daagliks te verseker dat daar kos in die huis is, het egter sy tol begin eis. Sy hoop vir ’n beter toekoms het aan ’n draad gehang.
Op dié punt in hulle storie het ons by Oggendrooi, Radio Tygerberg 104FM se ontbytprogram in die Kaapse Skiereiland, met ons Projek Oase van hulle gehoor. Met dié projek nomineer luisteraars individue of ’n gesin wat deur ’n “woestyntyd” gaan. Ons stuur dan ’n span vroegoggend tydens ons program uit om die gekose gesin met ’n geskenkbewys vir kruideniersware te gaan verras. Vir die ontvangers is dit ’n “oase”-oomblik te midde van hulle woestyn.
Te danke aan borge en luisteraars kon ons vir Kelly-Bianca se gesin kruideniersware, asook beddens en Kersgeskenke (wat ’n organisasie wat rondom Kerstyd geskenke vir kinders bymekaarmaak vir ons gegee het), saamstuur. Ons kon ook die nuus met die pa deel dat sy kinders se agterstallige skoolgelde betaal sal word en dat die skoolgeld vir 2013 ook vooruit betaal sal word. Die nuus het trane van vreugde oor sy wange laat vloei.
Eers later sou ons uitvind dat Kelly-Bianca vir weke lank ’n spesifieke pop begeer het wat sy tydens ’n televisie-advertensie gesien het. Haar pa en ouma kon dit nie bekostig nie. Tog het die klein dogtertjie aangehou om te bid dat God die pop vir haar sou gee. Uit al die Kersgeskenke wat die organisasie bymekaargemaak het en kon uitkies, het hulle onwetend daardie spesifieke pop wat Kelly-Bianca vir God gevra het vir haar saamgestuur. Niemand het dit geweet nie, maar God het dit nie vergeet nie.
Net soos God betrokke was in die detail in Kelly-Bianca se lewe, wil Hy graag ook in jou lewe betrokke wees. Hy ken jou hartsbegeertes. In Psalm 33:13-14 lees ons immers: “Die Here kyk uit die hemel, Hy sien al die mense, Hy kyk uit sy woonplek wat almal doen, almal wat op die aarde woon.” God sien ons nie net raak nie. Hy ken ook ons harte. In Handelinge 1:24 lees ons: “Toe het hulle gebid en gevra: ‘Here, U ken almal se harte. . .’” (Die Bybel vir Almal).
As jy jouself dus in ’n situasie bevind waar jy net met God oor jou spesifieke uitdaging in jou lewe kan gesels, wees gerus. Hy weet van jou finansiële verknorsing, jou huweliksmaat se harde hart, jou begeerte na ’n lewensmaat of ’n baba of wat ook al jou bekommernis mag wees. Hou net aan om op Hom te vertrou. Sy tyd vir ’n deurbraak en sy manier waarop dit geskied is altyd presies reg. Hy is Almagtig en niks is vir Hom onmoontlik nie. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek met elke uitdaging in my lewe na U kan kom. Help my om weg te kyk van die uitdagings in my lewe en my oë op U te vestig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Sien foto’s en videogreep van die Holmes-gesin op die sosiale netwerk, Fbook se Stories van Hoop bladsy.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms.