Vers n dag - 15 Januarie 2013
HUIDIGE TEMA: Nuwe hoop vir 2013 (As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na
DAG 2: NUWE HOOP ... SONDER GEHEIME
Deur Benescke Janse van Rensburg
Gister was ’n groot dag vir die wêreldbekende fietsryer, Lance Armstrong. Het hy ná maande sy beweerde gebruik van opkikkers erken of steeds aangehou om dit te ontken? Dié antwoord sal egter eers bekend word wanneer die eerste TV-onderhoud wat hy gister aan Oprah Winfrey toegestaan het, Donderdagaand uitgesaai word.
Sedert die Amerikaanse agentskap teen verbode middels (Usada) sy verslag oor Armstrong se leuens bekend gemaak het, het hy baie van sy borge verloor. Hy is ook van sy sewe Tour de France-titels gestroop.
Of Armstrong skuldig is of nie, is nie vir my om te oordeel nie. Wat ek wel weet is dat wanneer ons met ’n donker geheim in ons lewens rondloop, dit soos ’n monster word wat heeldag in ons nekke blaas. Dit beroof ons van ons lewensvreugde en vrede en veroorsaak dat ons ons opgeboude frustrasie op die mense vir wie ons die liefste is uithaal. Dít terwyl die vyand met ’n breë glimlag sit omdat hy weet dat só ’n geheim ons in ’n tronk vassluit en verhoed dat ons ’n oorvloedige lewe lei.
Sit jy met so ’n geheim vandag in jou lewe? ’n Verbode verhouding? ’n Verslawing? ’n Oneerlike transaksie by die werk? ’n Leuen wat jy probeer verdoesel? Het jy dalk ’n aborsie gehad? Of is jy gemolesteer of was jy dalk die molesteerder? Voel jy hoe die monster in jou nek blaas? Waarom vermorsel jy dit nie deur met God oor jou geheim te gesels nie?
In Mattheus 10:26-28 sê Jesus: “Daar is niks wat weggesteek is wat nie aan die lig sal kom nie en alles wat geheim was, sal bekend word.” Ook in Hebreërs 4:13 lees ons: “Daar is niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.” Daar is egter ook goeie nuus: As ons waarlik berou het en ons sonde voor God bely, beloof Hy om ons sonde so vêr soos die ooste van die weste te verwyder (Psalm 103:12).
Al voel die potensiële gevolge om “daardie geheim” aan die lig te bring vir jou oorweldigend, kan jy gerus wees. God sal jou deur sy genade versterk. Al is die tydelike gevolge ook pynlik, sal Hy jou sterker aan die ander kant uitbring met nuwe hoop in jou hart. Is dit nie immers beter om op aarde jou geheim aan die lig te bring as wanneer jy eendag alleen voor God se troon staan nie? Neem dus vandag die besluit met die wete dat God jou nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U my deur en deur ken. Ek bring vandag (die geheim) na U toe. Maak my vry en versterk my om die gevolge van my dade te dra. Lei my ook asseblief deur u Heilige Gees om daagliks in daardie lig te leef. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms.