Vers n dag - 13 Desember 2012
Daar ver in ʼn krippie ...
Hennie Symington
Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. Meteens staan daar ʼn engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ʼn goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! En dit is vir julle die teken: julle sal ʼn kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ʼn krip lê.”
Skielik was daar saam met die engel ʼn menigte engele uit die hemel wat God prys en sê:
“Eer aan God in die hoogste hemel,
en vrede op aarde
vir die mense in wie Hy ʼn welbehae het!” Lukas 2:8-14
Die nag was koel en die windjie was fris. Die grond waarop hulle geslaap het was hart, en die sterrenag was hulle enigste bedekking daar waar hulle wag gehou het oor hulle skape wat rustig in die donker slaap.
Skielik lyk dit asof die skape meer sigbaar word in die donker – dis asof die lug helderder is. Dan, in ʼn oogwenk skyn daar ʼn oorweldigende lig wat die nagtelike hemel verlig. En in die lig staan ʼn engel wat ʼn wonderlike boodskap aan hulle verkondig:
“Vandag is daar vir julle ʼn Redder gebore en julle sal hom vind waar hy in doeke toegedraai lê in ʼn krip.” Lukas 2:11
Hulle kon nie wag om te gaan kyk nie. En wat kry hulle? Presies wat ek en jy steeds vind: God in die vlees. God as mens. God Immanuel. God het na ons toe gekom – so naby dat Hy soos ons kon wees. So naby dat ons Hom kan omhels. God het ʼn kind geword sodat Hy ons kon teruglei na ons Vader.
Wanneer die lewe weer sy vaal kleed oor jou kom sprei, en niks vir jou mooi is nie, onthou die Een wat tussen die diere in ʼn stal gebore is. Wanneer dit weer vir jou voel asof jy nêrens hoort nie, onthou die een wat moes vlug voor sy eie mense. Wanneer dit vir jou voel as niemand jou hulpgeroep hoor nie, onthou die Een wat in lappe toegedraai in ʼn stal gehuil het.
Een nag, twee duisend jaar gelede het ʼn paar armsalige skaapwagters iets gevind wat hulle wildste drome oortref het. Iets wat ons ook kan vind: die pad na God deur ʼn krip.
Gebed
Welkom, o stille nag van vrede,
onder die Suiderkruis,
wyl stemme uit die ou verlede oor sterrevelde ruis.
Koos du Plessis (Liedboek van die Kerk nr. 358).