Vers n dag - 12 Desember 2012
God soos geen ander
Hennie Symington
Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. Johannes 1:14
Ek is oral want ek is die ligstaal wat die majesteit van die Vader wat my gestuur het om alles wat oor my voorspel is te vervul, te belig. (uit: Die Openbaring aan die wys manne” apokriewe boek vetaal deur Brent Landau.)
In feitlik alle mites dwarsdeur die bestaan van die mensdom lees ons die verhaal van die mens wat soos God wou wees. Van vroeg af lees ons reeds van Adam en Eva wat soos God wou wees. Later bou die mens ʼn toring om te gaan kyk wat God in die hemel maak. (Gen. 11:4). Ons lees van Nebukadneser wat hom vir ‘n god aansien en mense dwing om hom te aanbid (Dan. 3:5). En ons kyk na die mens vandag wat so slim geword het dat hulle God heeltemal uit die skepping uit gedink het.
Nêrens lees ons egter van ʼn God wat wat gelyk geword het aan die mens nie. Behalwe Jesus. Hy word aan ons gelyk sodat die breuk tussen hemel en aarde herstel kan word. Met sy koms het die hemel nie net na die aarde toe gekom nie, maar het die aarde hom na die hemel toe uitgestrek.
Die wonder van hierdie menswording is egter dat dit nie ʼn eenmalige gebeurtenis is wat beperk word tot tyd, plek, nasie of geslag nie. Jesus is as mens gebore sodat ons vir altyd die moontlikheid kan hê om nuut te word. Hy word daagliks gebore in die harte van miljoene mense dwarsoor die wêreld. God gaan voort om sy werk op aarde te doen deur die lewens van mense wat glo dat die koninkryk binne-in ons is.
Gebed
Here Jesus, Kersfees sonder U is soos ʼn kersete sonder smaak. U is die onmisbare, die ewige, die God wat op wonderbaarlike wyse mens geword het. Amen.