Vers n dag - 11 Desember 2012
God se tyd is nie ons tyd nie
Hennie Symington
“Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” Johannes 14:14
Die moderne mens met sy passie vir spoed is nie lief om te wag nie. Hoe vinniger hoe beter. Ons wil dinge nou hê. Selfs rekenaars wat teen die spoed van “witlig” boodskappe stuur maak ons heeltemal ongeduldig as dit soms nie vinnig genoeg gebeur nie.
Ons kan nie eens by ʼn betaalpunt wag om gehelp te word nie Kitskos is ons daaglise brood, en bewaar jou siel as jy die verkeer ophou. Wanneer ons iets wil hê, wil ons dit nou hê. Wanneer God dan soms vir ons sê: “nog nie” klink dit in ons ore soos “nooit nie”. In ons gedagtes glo ons dat God se beloftes slegs waar gaan word in die eindtye terwyl ons vergeet van die talle beloftes van God reeds in menseheugenis vervul is. Ander wag weer om in die volheid van die tyd en volgens die wysheid van God in vervulling te gaan.
Daar word reeds talle beloftes feitlik daagliks in ons lewens vervul:
Vergifnis van sondes is vinniger as ʼn sms.
Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. 1 Johannes 1:9
God se aard en wese bly vir ewig staan.
Ek, die Here, het nie verander nie… Maleagi 3:6
God verlaat ons nie.
En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen. Matteus 28:20 (1933/53-vertaling)
God stuur sy Heilige Gees om in ons te woon.
In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. Timoteus 1:13
Ons is familie van God.
In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. Efesiërs 1:5
Hy beantwoord ons gebede en beloof om in ons behoeftes te voorsien
As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges? Matteus 6:30
Hy verseker ons van saligheid:
Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Johannes 10:28
Hy gee aan ons geestelike gawes:
...ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. Romeine 12:6
Hy gee and ons gemoedsrus.
En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Filippense 4:7
Die grootste belofte wat egter reeds bewaarheid is dat God sy Seun gestuur het om ons met Hom te versoen.
Kyk, die maagd sal swanger word en ʼn seun baar, en hulle sal Hom Emmanuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons. Matteus 1:22 (1933/53-vertaling)
Geniet Kersfees met dankbaarheid en blydskap vir die grootste geskenk ooit!
Gebed
Here, U is getrou. U is oneindig goed vir my, terwyl ek soms siende blind na u kyk.