Vers n dag - 10 Desember 2012
Op ʼn pelgrimsreis na die krip
Hennie Symington
“Waar is die koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys.” Matteus 2:2
Die wyse manne – ons weet nie of hulle konings of sterrewiggelaars of sterrekundiges was nie – het ʼn manjifieke verskynsel gesien: ʼn buitengewoon helder en ongewone ster. Hulle het gaan navorsing doen en in die pad geval op soek na hierdie verskynsel, amper soos Abraham van ouds wat geslagte te vore die stem van die onbekende en onsigbare God gehoor het, wat hom geroep het om vir hom ʼn volk in die onbekende te wees. Net so het die wyse manne ʼn visie gehad.
Waar Abraham se visie hom na die beloofde land gelei het, het die wyse manne se visie hulle gelei na Betlehem. Hulle het die ster gesien en geglo dat die Kind bestaan en was bereid om alles prys te gee om die Koning te vind.
Dit was ʼn lang en moeisame reis van nagenoeg 2500 kilometer waar daar nie oral paaie was nie. Maar dit het hulle nie afgeskrik nie want hulle het ʼn visie gehad. Waar daar visie is gaan mense vooruit. Abraham het dit bewys en die wyse manne het dit bevestig.
Dalk het jy ook ʼn visie maar weet nie hoe om dit waar te maak nie. Volg die wyse manne se voorbeeld. Hulle het ʼn ster gevolg en God ontdek. Dalk kan ons ook die aanloop tot Kersfees die volgende in ons harte oordink:
Haas jul, o haas jul na Bethlehem
Verkondig Sy koms met luide stem
Die geboorte van die liefde is op hande
Gaan verkondig dit hier en in verre lande!
Haas jou, haas jou nou na Betlehem (Hennie Symington)
Gebed
Here, die werklikheid kry my soms onder. Gee my ʼn visie in my hart en die wysheid om die ster wat lewe gee te volg.