Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 20 November 2012

Die som van die dele is gelyk aan die geheel

Hennie Symington

Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar. Romeine 12:4-5

Toe Jesus gevra is om op te som wat Hy glo, antwoord Hy kort en bondig: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en jou medemens soos jouself. Dit is waaroor ons geloof gaan: verhoudings, nie net met God nie maar met ander. Hierdie opsomming van die gebooie dek die hele spektrum van verhoudings waarmee ʼn mens daagliks in jou omgang met mense gekonfronteer word.

Maar wat beteken dit in praktyk? Ons land word van vooraf gekenmerk deur polarisasie tussen groepe. Die armes voel verontreg deur dié met geld, en die wat het voel bedreig deur die ellende rondom ons. Ons taak is om hierdie verhoudings te herstel. Om dit reg te kry moet ons tyd saam met ander Christene deurbring en maniere vind om saam te werk, nie net op Sondae wanneer ons as die liggaam van Christus aanbid nie, maar ook as mede-burgers van die wêreld waarin ons woon. En net soos wat elke ledemaat in ʼn liggaam afhanklik is van ʼn ander, is ons deel van die liggaam van Christus. As deel van die liggaam vorm elkeen van ons ʼn onmisbare skakel in die weefsel van ons gemeenskappe. Ons kan dus nie eenkant bly staan wanneer ons broers of susters in Christus ly nie.

As die liggaam van Christus moet ons ons stem laat hoor in ons eie gemeenskap waar geregtigheid en genade aan mense ontsê word. Waar daar armoede is, moet ons die hand uitsteek om te help. Waar daar onkunde is moet ons ons moue oprol en ons kennis met mekaar deel. Ons is die hande en voete van Christus in ʼn wereld wat blind en doof is vir die uitroepe van die wat ly. Wat meer is, ons hoef nie ver te gaan soek om nood te verlig nie; die nood is rondom ons. Kom ons maak die koninkryk van God sigbaar in ons omgewing deur sy hande en voete in die wêreld te wees.

Gebed: Vader vergewe ons wanneer ons die eenheid van die ligaam van Christus verwaardeloos. Maak ons oë oop vir die nood rondom ons.

Previous article: Vers n dag - 21 November 2012 Prev Next article: Vers n dag - 19 November 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.