Vers n dag - 21 November 2012
Sê nou maar...
Hennie Symington
In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ʼn enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie. Johannes 1:1-5
Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. Johannes ...God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. Johannes 1:14,17
Wat as die Woord slegs woord gebly het? Dan kon dit opgeskryf word in ʼn boek, heilig verklaar word en op die rak gebêre word om stof te versamel.
Maar die Woord het die onbegryplike, die onvoorstelbare gedoen: Die Woord het vlees geword – het menslike vorm aangeneem om God se nimmereindigende liefde aan ons te verklaar. Hoekom? Omdat ons nie die boodskap deur al die eeue heen gekry het nie. Daar was so baie boodskappe. God het ʼn volmaakte tuin geskep waar die mens in skoonheid en in volmaakte harmonie met sy Skepper kon verkeer. Maar ons het nie die boodskap gekry nie. Toe stuur God ʼn vloed om ons te waarsku. Maar ons het nie die boodskap gekry nie. Hy het vir ons wette gegee om ons te help om reg te lewe maar ons het nie die boodskap gekry nie. Hy het profete by die dosyne gestuur om God se boodskap aan ons te verduidelik. Maar ons het steeds nie die boodskap gekry nie. Toe kom God self. Hy het hierdie koppige, deurmekaar wêreld so liefgehad dat Hy mens geword het en saam met ons kom woon het in die stowwerige paadjies van ons dorpe en stede.
Nou sal hulle verstaan wanneer hulle God kan sien en aanraak en ervaar hoe Hy geleef het toe Hy by ons was. Hoe Hy die siekes gesond gemaak het en die gebrokenes aangeraak het. Hoe Hy gelag en gehuil het en ons geleer het om te bid. En hoe Hy homself gegee het om gekruisig te word: “Dit is my liggaam, gebreek vir jou.”
Toe het die Woord teruggekeer vanwaar Hy gekom het, om ʼn plek vir ons gereed te maak en sy Gees gestuur om ons te lei en te herinner aan God se teenwoordigheid en sy ewige liefde vir ons.
Gebed: Dankie Here dat U ons nie vergeet of verwerp nie. Dankie dat U ons lief genoeg gehad het om U lewe vir ons te gee.