Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 19 November 2012

Om die mensdom te dien

Hennie Symington

Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”

God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. Genesis 1:26-27

                        Die Gees van die Here my God het oor my gekom;

                        die Here het my gesalf

                        om ʼn blye boodskap te bring aan die mense in nood,

                        Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur,

                        om vir die gevangenes vrylating aan te kondig,

                        vryheid vir dié wat opgesluit is... Jesaja 61:1

 

Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is, en aan dié wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word. Hebreërs 13:3

Ek was honger en jy het my na ʼn mensregtegroep verwys.

Ek was in die tronk, en jy het saggies gebid vir my vrylating.

Ek was nakend en in jou gedagtes het jy gewonder of ek ordentlik genoeg was om ʼn kerkdiens by te woon.

Ek was siek en jy het God op jou knieë gedank vir jou goeie gesondheid.

Ek was eensaam en jy het my alleen gelos om vir my te bid.

Jy lyk so heilig, so na aan God, maar ek is steeds honger – en eensaam en buite in die koue.

(Words for Worship, 1986)

 

Die kerk het deur die eeue heen sy merk gemaak in talle plekke op aarde waar die waardigheid en menslikheid van mense vertrap is. Sendelinge dwarsdoor die wêreld het nie net die Woord verkondig nie, maar ook hospitale, skole en tehuise opgerig. Die kerk dwarsoor die wêreld sorg vir die blindes, die dowes, die wese, die weduwees, die siekes en die sterwendes. Hoekom? Want in die Christelike geloof is dit mense wat saak maak. Elke mens het ʼn onvervreembare waarde as mens. Man, vrou en kind is almal na die beeld van God geskape. As ons dit glo, en daarvolgens lewe, kan ons nie anders as om alles in ons vermoë te doen om menste vry te maak en hulle menslikheid te beskerm nie.

Die oomblik as ons vergeet dat alle mense na die beeld van God geskape is en mense van vlees en bloed is en nie net siele nie, vergeet ons van die mens agter die nood. Maar as ons rêrig omgee vir ander, kan ons nie help om besorg te wees oor hulle welstand nie.

Gebed: Here, vergewe my wanneer ek menslike nood in terme van sosiale vraagstukke sien. Open my oë en my hart sodat ek U beeld in elke mens kan raaksien. Amen.

Previous article: Vers n dag - 20 November 2012 Prev Next article: Vers n dag - 16 November 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.