Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 16 November 2012

God se kwesbaarheid bemagtig ons

Hennie Symington

Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk. 2 Korintiers 12:8-10

God se weerloosheid lê in die krag van sy liefde. Jesus het aarde toe gekom om God se aard aan ons te openbaar. Deur God se liefde wat in Christus geopenbaar is, leer ken ons God as ʼn God wat bereid is om te ly ter wille van ons. Deur sy Seun wat Hy innig liefhet te laat sterf ervaar ons God se uiterse weerloosheid.

Hoe raak dit ons in die manier waarop ons ons naaste, die vreemdeling in ons poorte, die armes en ook God dien? Wees gewaarsku! Selfhandhawing is nie Jesus se manier van lei nie.
“As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees” (Markus 9:35) was een van gunsteling uitsprake. Soos Christus weerloos was ter wille van ons, net so moet ons toelaat dat ons blootgestel word in die wêreld.

Om weerloos te wees is ʼn skrikwekkende gedagte en daarom sal ons alles in ons vermoë doen om dit te vermy: ons verskans ons in ons private en openbare lewens om ons te beskerm teen seerkry. Ons vrees verwerping en om veroordeel te word. Tog is dit juis ons weerloosheid wat ons nader aan ons medemens bring. Dit is juis wanneer ons op ons weerloosste is dat ons die meeste soos Jesus lyk. Die Bybel sê mos: wanneer ek swak is, is ek sterk.

Gebed: Here dankie dat U ons nie verlaat wanneer ons so vasgekeer is in ons aardse bestaan dat ons vergeet dat U gesterf het om u koninkryk nader te bring aan ons.

Previous article: Vers n dag - 19 November 2012 Prev Next article: Vers n dag - 15 November 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.