Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 13 November 2012

Christus draer van goddelike menslikheid

Hennie Symington

                        Hy wat in die gestalte

                            van God was,

                        het sy bestaan op Godgelyke wyse

                        nie beskou as iets waaraan Hy Hom

                            moes vasklem nie,

                        maar Hy het Homself verneder

                        deur die gestalte van ʼn slaaf aan te neem

                        en aan mense gelyk te word. Filippense 2:6-7           

Die goddelike eienskappe van liefde en genade, wat van ons waarlik mens maak, kom van God. Ons is mens in die diepste sin van die woord wanneer ons God se beeld en goddelike eienskappe in die wêreld reflekteer. Dit is dus belangrik om te dink oor God se “menslikheid” soos wat dit in Christus aan ons gewys is.

Hoe kan ons God in Jesus se menswees raaksien? Watse soort mens was Hy? Hoe was God teenwoordig in Jesus? Wat leer ons uit die Bybel van sy menslikheid? Hoe was Hy as medemens? Hoe het Hy teenoor ander mense opgetree?

Uit die Nuwe Testament kom ons agter dat Jesus ʼn besonder menslike persoon was; net so menslik soos ons. Hy kon kwaad word en ontsteld raak, veral wanneer mense harteloos en skynheilig optree:

Daarna vra Hy vir hulle: “Mag ʼn mens op die sabbatdag goed doen of kwaad doen, iemand red of doodmaak?”

Hulle het egter niks gesê nie. Hy het hulle rondom Hom kwaad aangekyk en was diep bedroef oor hulle verhardheid. Hy sê toe vir die man: “Steek jou hand uit!” (Markus 3:5)

Hy het diep gesug en gesê: “Waarom wil hierdie geslag ʼn teken hê? Dit verseker Ek julle: Aan hierdie geslag sal beslis nie ʼn teken gegee word nie.” (Markus 8:12)

Hy het ʼn behoefte aan rus gehad: Jesus het op die bank in die agterstewe gelê en slaap. (Markus 4:38)

Hy kon emosioneel raak oor liefdeloosheid. Hy was diep ontroer deur die naamlose vrou wat sy kop met olie gesalf het in die tyd toe sy “bitter beker” vir hom voorberei word:

“Laat staan haar,” het Jesus gesê. “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het ʼn goeie daad aan My gedoen.... Sy het vooruit al my liggaam gesalf as voorbereiding vir my begrafnis.” (Markus 14:6,8b)

Hy het verlate gevoel: Hy kom toe terug en kry die drie aan die slaap en vra vir Petrus: “Simon, slaap jy? Kon jy nie eens een uur lank wakker bly nie?” (Markus14:37)

Hy het diepe lyding ervaar: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matteus 27:46b)

God kon nie verdra dat ons as mense weerloos staan voor die aanslae van die lewe nie. Die enigste manier waarop ons iets kon verstaan van God se heerlikheid en genade was om dit in die vlees te sien. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.(Johannes 1:14)

Gebed: Here, dankie dat  U die pad met ons kom loop het. Ons dank u vir u onmeetlike liefde en genade.

Previous article: Vers n dag - 14 November 2012 Prev Next article: Vers n dag - 12 November 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.