Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 12 November 2012

Wanneer die Onsienlike die sienlike aanraak ...

Hennie Symington

...”Elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” Matteus 20:27-28

Alles wat in die lewe gebeur herinner ons daaraan dat ons nie gemaak is om mensalleen in hierdie wêreld te leef nie, maar om in ʼn verhouding met God te wees.

Hoe is dit moonlik, vra sommige, vir sterflike mense soos ons om in ʼn reële verhouding met die onsterflike, oneindige God te kan staan? Die antwoord is: God het mens geword in Jesus Christus. Die oomblik toe die Woord vlees geword het, het die skeiding tussen die eindigheid en die oneindigheid eindeloos klein geword. Deur mens te word het God dit moontlik gemaak vir Jesus om langs ons te staan, die lewe in al sy pyn en vreugde te ervaar en om uiteindelik te sterwe om ons ʼn kans op lewe te gee.

Christus se nalatenskap leef egter steeds voort in ons lewens. Die herinnering aan God se menslikheid dra ons en stel ons in staat om in ʼn verhouding met die onsterflike God en skepper van die heelal te tree. Terselfdtyd laat Hy ons met wonderlike herinnerings aan sy teenwoordigheid: Jesus het ons geleer hoe om te vergewe; hoe om lief te hê; hoe om uit te reik na die vergetenes; hoe om die tweede myl te loop; hoe om ander se swaarkry op ons te neem; hoe om na mense te kyk met ʼn oog van verdraagsaamheid en om verby ons menslike beperkings uit te reik na ander, om sosiale en klasseverskille te oorkom, en veral om lief te hê.

ʼn Mens word oor en oor verras deur Jesus se vermoë om die skeidslyn tussen die heilige en die aardse oor te steek en die taboes wat mense van mekaar skei te deurbreek. Op ʼn keer toe Hy ʼn doofstom man gesond gemaak het, verrig Hy ʼn paar verrassend intieme handelinge:

Die mense bring toe dowe man wat ook ʼn spraakgebrek het na Hom toe en vra Hom om tog sy hand op hom te lê. Hy het hom eers eenkant toe gevat, weg van die mense af. Toe het Hy sy vingers in die man se ore gesteek en spoeg aan sy tong gesmeer. Daarna het Hy na die hemel toe opgekyk, gesug en vir hom gesê: “Effata!”. Dit beteken: Gaan oop! Markus 7:33-34.

Gebed: Here, dankie dat u na ons toe gekom het om vir ons te wys hoe God lyk. Dankie dat U nie van ver af met ons praat nie, maar dat U teenwoordig is waar ons ookal is.

Previous article: Vers n dag - 13 November 2012 Prev Next article: Vers n dag - 9 November 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.