Vers n dag - 9 November 2012
Die Messias onder ons
Hennie Symington
... Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ʼn vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.’ Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? En wanneer het ons U ʼn vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’ Matteus 25:35-40
Eenkeer was daar ʼn Benediktynse klooster wat nooit meer deur iemand besoek is nie. Dag na dag het die broers gesit en wag maar tevergeefs. Stadigaan het hulle oud en grys en moeg geword vir die gewag.
Net buite die klooster het daar ʼn ou rabbi gewoon. Mense het van heinde en verre gekom om hom te besoek. Hulle het oor alles gesels en veral oor Jaweh se handeling in die skepping. Dit het vir jare so aangegaan. Op ʼn dag besluit die ab (hoof van die klooster) om ʼn bietjie met die rabbi te gaan gesels.
Toe hy by die rabbi se hut aankom, het dié hom met ope arms tegemoetgegaan – so amper asof hy hom verwag het. Die ab het dadelik tot die punt gekom. Hy het die rabbi vertel van die monnike wat so toegewyd was maar nie die nodige vuur gehad het om die gemeenskap brandend te hou nie. Hy vra toe of die rabbi nie vir hom enige insigte het oor Jaweh se werk in hulle lewens nie. Die ou rabbi leun toe oor na die ab en fluister in sy oor: “Ek gaan vir jou ʼn geheim vertel. Jy mag dit eenkeer oorvertel aan die monnike en daarna nooit weer nie.” Die ab stem toe in.
“Wel,”sê die rabbi, “die geheim is dat een van julle die draer van die Messias is.” Die ab kon nie wag om die geheim aan die monnike oor te vertel nie. En van daardie dag af aan begin hulle soek na die Messias in mekaar. En soos wat hulle soek en wonder wie dit kon wees, sien hulle mekaar met ander oë. Hulle begin om mekaar lief te kry en kort voor lank gaan hulle klooster van krag tot krag.
Die les van die storie? Toe die monnike mekaar begin sien as die moontlike draer van die Messias, kon hulle nie anders as om iets heiligs in mekaar raak te sien nie.
Gebed: Gee Here, dat ons die heilige in die alledaagse sal raaksien. En dat ons nie die beeld van God in mekaar sal ontken nie.