Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 8 November 2012

Wanneer die rykes ryker word, is die armes steeds by ons

Hennie Symington

“As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal ʼn skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.” Matteus 19:21

Dis geen geheim nie! Die gaping tussen ryk en arm word groter by die dag. Maatskappybestuurders vlieg hoog, atlete is goud werd terwyl baie vermaaklikheidsterre letterlik in die geld rol. En ten spyte van ons verontwaardiging oor ander se rykdom, wens ons heimlik dit was ons! Ons beny die rykes en reken dit kom hulle toe want hulle het dan daarvoor gewerk.

Wat sê Jesus oor die rykes? Hy waarsku dat rykdom gevaarlik is – gevaarlik vir die siel en gevaarlik vir die gemeenskap. Wanneer rykdom ons van ons vrygewigheid ontneem sluit dit ons harte maak en dit moeilik om deel van die koninkryk van die hemele te wees. Dis egter gevaarlik om armoede sonder meer te verheerlik en die armes salig te verklaar. Armoede is in baie gevalle vernederend en beroof mense van hul menswaardigheid. Dikwels is misdaad en bedelary die natuurlik uitvloeisel van armoede. Tog word die armes as die goeie ouens gesien en die rykes as die slegtes. Die feit is, ons almal, ryk en arm, is sondaars en is afhanklik van God se genade.

Die uitdaging aan die wat het, is om te besef dat dit wat ons besit nie aan ons behoort nie maar in trust aan ons gegee is deur God, die gewer van alles wat goed is. Buitendien is die vrugte op ons arbeid gebou op die harde werk van diegene wat vir ons werk. Geen myn kan bedryf word sonder die rugbreekwerk van myners duisende meter onder die grond nie, terwyl boerdery floreer in die sweet van die arbeider se aangesig. Dit geld vir elke bedryf van a tot z.

Wat sê die Bybel?

Jesus het toe regoor die offergawekis gaan sit en kyk hoe die mense geld daar ingooi. Baie ryk mense het baie geld ingegooi. Daar het toe ʼn arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd. Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.” Markus 12:41-44

Gebed: Here, ons wil so graag glo dat rykdom en besittings die alfa en die omega van geluk is. Tog wys U vir ons dat ware geluk beteken juis om ons los te maak van dit wat ons harte inpalm. Here, maak my vry van die smag na meer.

Previous article: Vers n dag - 9 November 2012 Prev Next article: Vers n dag - 7 November 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.