Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 1 November 2012

Sielsreis

Hennie Symington

Toe het die Here gevra: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?”

            Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie.” Eksodus 33:14-15

Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ʼn heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. 2 Korintiers 4:16-18           

Vandag word jy uitgenooi, of uitgedaag om op reis te gaan sonder om ʼn voet uit jou huis te sit. Dit is ʼn reis na die siel om bestekopname van jou geestelike landskap te doen. Jy hoef nie eens op jou eie te gaan nie. In die Ou Testament lees ons van God wat saam met sy volk reis, Jesus praat oor die koninkryk wat altyd by ons is, terwyl Paulus gereeld praat van die gemeenskap van gelowiges wat rondom ons is. Ons kan dus ʼn sielsreis op soek na ons geloof onderneem in die voetstappe van die wat ons voorafgegaan het.

Waar begin ek? Deur ontslae van alles wat jou aandag in beslag neem en jou gedagtes van jou reis aflei. Ignoreer gemorspos, die katalogusse, die koerantartikels, en as jy kan, of veral, die televisie.

Verfris jou innerlike. Ontdek weer die vreugde van geloof. Wat maak jou opgewonde oor jou geloof? Wat dink jy sal God se hart verbly oor jou die manier waarop jy glo? Probeer om jou eerste liefde vir God te herwin. Gaan soek weer na die werking van Heilige gees in jou siel. Paulus se mos êrens: Moenie die Gees in jou blus nie.

Moenie verskoning maak vir jou geloof nie. As iemand jou vra wat is belangrik is in jou lewe, sê sonder skroom: My geloof in Jesus Christus.

Die wonderlikste van so ʼn innerlike reis is om te ontdek al wys jou liggaam die tekens van die tyd, kan jou siel oor en oor hernu en verfris word.

Voorspoedige reis!

Here, wees U my reisgenoot deur die dieptes, en die hoogtes van hierdie reis deur die landskap van my siel.

Previous article: Vers n dag - 2 November 2012 Prev Next article: Vers n dag - 31 Oktober 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.