Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 2 November 2012

Deursoek jou siel

Hennie Symington

Sit ʼn slag ʼn tyd opsy om jou siel te soek, te besoek en te deursoek. Gaan dan na ʼn stil plek en vra God om jou gedagtes te lei. (Jy kan dit sommer agter jou lessenaar by die kantoor ook doen.)

Lees die Bybelseleksies op jou tyd deur totdat die betekenis by jou tuiskom. Lees hulle hardop sodat jy die Woord van God kan hoor. Oordink hierdie woorde totdat die Woord deel word van jou. Moet dit nie ontleed of probeer verstaan nie. Laat die Woord van God jou aanraak en jou hart omskep.

Haal diep asem en visualiseer jou hart as die plek waar God woon. Sien jou liggaam as ʼn mynskag waarin jy afsak tot in die diepstes van jou siel. Lees dan die volgende seleksies oor en oor:

                        Deurgrond my, o God, deurgrond my hart,

                         ondersoek my, sien tog my onrus raak. Psalm 139:23

Uit die dieptes roep ek na U, Here,

luister tog na my, Here,

hoor tog my hulpgeroep.

130:1b-2

Ek sal julle ʼn nuwe hart en ʼn nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ʼn hart van vleis gee. Esegiel 36:26

Konsentreer op die Woord en laat God toe om jou te vertroos:

“Julle moenie ontsteld wees nie. Glo in God; glo in My.” Johannes 14:1

Kyk na binne en vra God om jou te help om jou passie en energie vir die lewe te herstel.

Hoe kosbaar is u trou, o God!

U beskerm die mense wat by U skuil.

In u huis geniet hulle oorvloed,

U laat hulle drink

    uit die strome van u goedheid.

U is die bron van die lewe,

deur u lig lewe ons.

Laat u liefde bly by dié wat U erken

en u trou by dié wat opreg is. Psalm 36:8-11

 

                        Ek sal die Here loof wat my

                            tot die regte insig gebring het;

                        selfs in die nag bly ek bewus

                            van wat Hy my leer.

                        Ek het die Here altyd by my  

                        omdat Hy by my is,

                                    sal ek nie struikel nie. Psalm 16:7-8

 

Wanneer jy klaar is, skryf jou gevoelens neer. Herhaal hierdie oefening gereeld met ander Skrifgedeeltes sodat jy die tegniek van innerlike bepeinsing en om een met God se Woord te word, kan inoefen.

Gebed: Here dit het so maklik geword om maar net op die oppervlak van my siel te beweeg dat ek vergeet het van die geestelike diepte wat daar binne-in my bestaan. Leer my om u Woord te oordink en die hoogte, die diepte en die wydte van U teenwoordigheid te ervaar.

Previous article: Vers n dag - 5 November 2012 Prev Next article: Vers n dag - 1 November 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.