Vers n dag - 31 Oktober 2012
DIE LIEFDE VAN GOD
Frank Retief
"God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom." 1 Johannes 4:16
In die vroeë jare van die 20ste eeu was daar 'n gospelsanger met die naam Charles Alexander. Hy was 'n sanger wat saam met van die groot predikers van die tyd, soos dr RA Torey en dr Wilbur Chapman, tydens hulle evangelisasiebyeenkomste opgetree het. Hulle is miskien vandag nie meer so bekend nie, maar hulle was legendes in hulle tyd.
Charles was getroud met Helen Cadbury, die dogter van die stigter van die Cadbury Sjokolade Maatskappy. Hy was 'n opgevoede Amerikaner en sy was 'n baie ryk Britse aristokraat. Maar hulle was verenig in hulle liefde vir Christus en Helen het elke aand met die sendingbyeenkomste gehelp om mense se vrae te beantwoord en ook met diegene wat hulle harte vir die Here wou gee.
Een aand tydens 'n byeenkoms wat spesiaal vir dronklappe, straatmense en boemelaars gereël is, was Helen weer daar om te help met diegene wat raad kom vra het. 'n Vrou met ongekamde hare en vuil geskeurde kleure het vorentoe gekom. Helen Cadbury het probeer om iets van God se liefde vir haar te verduidelik, maar sy het net voor haar uitgestaar en duidelik nie verstaan nie. Al wat sy gesê het was: "Hy het jou lief, maar nie vir my nie." Uiteindelik het dit gelyk asof sy begin begryp. Sy het skielik die aristokratiese Helen in die oë gekyk en gesê: "Soen my". Helen het dit dadelik gedoen en die vrou is daar weg. Maar sy het weer en weer na die byeenkomste gekom en Helen het vertel dat sy so blywas om haar daar te sien "skoon gewas en netjies".
Hierdie klein bewysie van die Vader se liefde en aanvaarding het hierdie arme vrou gehelp om te verstaan dat die Here haar in alle omstandighede liefhet. Ons het ook soms daardie versekering nodig.
Maar dink julle nie ook dat as ons vriendeliker en hartliker teenoor mense optree: meer liefdevol in woord en daad, dan sal ons woorde meer gewig dra nie?
Selfs die kleinste bewys van vriendskap kan baie help om die gesindheid te verander van diegene wat 'n geestelike behoefte het en wat onverskillig teenoor die evangelieboodskap staan.
Miskien is daar iemand in jou kring wat moet hoor dat God liefde is. " wie in die liefde bly, bly in God". Hulle moet dit kan sien en beleef. Hulle moet kan voel dat jy wat sê dat jy God liefhet gewillig is om jou arms om hulle te sit, al is hulle vuil en verwaarloos, en dat jy vir hulle sal bid en waarlik vir hulle omgee.
Dit het betrekking op ons almal, tot watter sosiale klas ons ook al behoort. Die liefde van God moet aan hulle verkondig word, maar soos in die geval van Helen Cadbury, is dit soms nodig om ook sigbaar te wees.
Onthou die woorde van Jesus in Matteus 25:40: “En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen."
Laat die liefde van God al jou dade regeer en laat sy liefde sigbaar wees vir almal met wie jy in aanraking kom, veral vir diegene vir wie dit moeilik is om lief te wees.
Gebed: “Hemelse Vader, U het die wêreld so liefgehad dat U u Seun gestuur het om ons te verlos en daarom behoort ons wat gered is hierdie liefde uit te leef. En tog gee ons soms nie om vir mense nie en behandel hulle onbeskof. Vergewe ons asseblief. Mag u Heilige Gees so in ons heers dat u liefde ten alle tye in ons sigbaar wees." Amen