Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 29 Oktober 2012

LEUENS

Frank Retief

Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam. Efesiërs 4:25

Onder die kinders van die Here moet daar geen leuens of valsheid wees nie.  Ons behoort aan die Een wat sê: "Ek is die waarheid" en waarheid en aanspreeklikheid behoort alles wat ons doen te rig.

Baie van ons ken die hartseer en konflik wat veroorsaak word deurdat mense vir ander mense leuens vertel.  Miskien was jy al die slagoffer van sulke valsheid.  Jy het dan seker begrip vir hoe seer dit kan maak en hoe skokkend dit kan wees.

Ons weet egter dat ons ons in 'n leuenagtige wêreld bevind.  Ons politici en mense in openbare posisies vertel dikwels nie vir ons die waarheid nie ‑  om nie eers te praat van die misleiding in die fynskrif in baie dokumente wat ons moet onderteken om in hierdie wêreld te kan bestaan nie. Ons TV-programme is vol van dié dinge wat 'n samelewing afbreek. Terwyl jy hier lees dink aan die storielyne van baie van die sepies waarna ons kyk. Hulle is vol leuens, bedrog en ontrouheid.

Spreuke 19:5 lui: "'n Vals getuie bly nie ongetraf nie, wie leuens kwytraak kom nie vry nie."  Ons almal weet dat leuens en halwe waarhede uiteindelik tog aan die lig kom, maar hoe hartseer is dit nie dat die karakters van baie jongmense dikwels gevorm word in 'n omgewing waar almal vir almal leuens vertel.

Dit behoort nie die geval met ons as Christene te wees nie.  Ons weet instinktief dat die waarheid ons lewens moet vorm. Ons ken die waarheid van Spreuke 19:22 "... dit is beter om arm te bly as om te bedrieg."  Ons ken ook die leringe van Jakobus in hoofstuk 3 oor die mag van die tong en hoe hierdie klein liggaamsdeeltjie deur 'n klein vuurtjie 'n groot bos aan die brand kan steek.

Kom ons vermy dit ten alle koste om leuens te vertel.  Ons is volgelinge van Jesus Christus uit wie se mond daar nooit 'n leuen of enige valsheid gekom het nie.  Die maak nie saak wat ander doen nie, kom ons besluit om altyd die waarheid te praat sodat mense ons kan ken as betroubare Christene op wie daar staat gemaak kan word, en dit alles ter wille van Christus.

Gebed: Almagtige God, ek bely dat ek so maklik 'n leuen of halwe waarheid kan vertel.  Help my om my Verlosser na te volg en te onthou dat die Gees van waarheid in my woon.  Vergewe asseblief my sondes.  In die Naam van Jesus bid ek dit. Amen

Previous article: Vers n dag - 30 Oktober 2012 Prev Next article: Vers n dag - 26 Oktober 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.