Vers n dag - 26 Oktober 2012
ONBENULLIGE DINGE
Frank Retief
"Wie aan een van hierdie geringstes net 'n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.” Matteus 10:42
Die Paralimpiese Spele van 2012 het onlangs in Londen ten einde geloop. Baie mense is van mening dat hierdie geleentheid meer bereik het om mense se gesindheid weens gestremdheid te verander as opvoedkundige programme of veldtogte vir gelyke regte. Een skrywer skryf: "Nie langer is hierdie atlete deur hulle gestremdhede gedefinieer nie maar deur hulle buitengewone talente".
Weet jy wie het met die Paralimpiese Spele begin? Sy naam was Ludwig Guttman, 'n Joodse dokter wat in 1939 uit Nazi Duitsland na Brittanje gevlug het. Hy het later die direkteur van die eerste spesialiseenheid vir spinale beserings in Brittanje geword. Sy inspirerende verhaal word vertel in Wikipedia op die Internet.
Hy is vandag miskien nie baie bekend nie, maar tog was die laaste Paralimpiese Spele 'n huldeblyk aan hierdie onbesonge held.
Jesus sê dit is hoe dit ook met ons sal wees. Soms voel jy as Christen dat jy as gevolg van jou persoonlike en fisiese omstandighede nie juis veel kan doen om ander te help nie. Inderdaad, somtyds voel jy dat jy niks kan doen nie. Maar Jesus sê dat selfs iets so klein en gewoon as 'n beker koue water wat jy aan 'n gelowige gee om hulle te bemoedig en te help sal nie ongesiens verbygaan nie en sal beloon word. Deesdae wanneer die atlete uit die pawiljoene toegejuig word, dink niemand meer aan Ludwig Guttman nie. So is dit ook met baie van ons; niemand juig ons toe nie want ons kan so min doen.
Wag net tot ons in die Hemel is. Daar gaan jy verwonderd staan oor die aantal mense wat na jou sal wys as die een wat op 'n keer iets klein en op die oog af onbeduidend vir hulle gedoen het om hulle aan te moedig. Moet nooit die beker koue water wat jy gee wanneer jy niks anders het nie, versmaai nie.
Onthou julle die geleentheid in Markus 12:41-44 toe Jesus die mense dopgehou het wat geld in die tempel se offerkis gegooi het? 'n Arm weduwee het gekom "en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd." Jesus het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”
Die kleinste daad wat ons vir Hom doen sal raakgesien word.
Gebed: Liewe Here, somtyds voel ek so nutteloos, so asof ek niks wat die moeite werd is vir U kan doen nie. Dankie dat U my aan die beker koue water herinner het. Help my om vandag dit wat ek kan, vir U te doen en te vertrou dat U dit tot u eer sal gebruik. Amen