Vers n dag - 24 Oktober 2012
HY HET OPGESTAAN
Frank Retief
“Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle. “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het." Mark 16:6
Somtyds sê mense as hulle tog maar net 'n wonderwerk kan beleef, dan sal hulle glo. Sommige gaan verder en sê dat die wonderwerk op hulle persoonlik gerig moet wees. As die Here hulle uit hulle omstandighede verlos, dan sal hulle glo.
Eerstens die Bybel is vol wonderwerke wat deur honderde mense aanskou is en tog het hulle nie geglo nie. Hulle het eerder geskreeu: "Kruisig Hom! Kruisig Hom!" Ons onderskat soms hoe onontvanklik on harte kan wees. Ons beskik vandag oor ongelooflike film- en televisietegnologie wat ons in staat stel om die wonders van die bodem van die see tot die onbeskryflike grootsheid van die buitenste ruimte te kan sien. En tog glo baie steeds nie.
Toe Jesus op aarde was het Hy drie wonderwerke gedoen waar Hy mense uit die dood opgewek het. Die eerste was die dogtertjie van Jaïrus, die raadslid van die sinagoge, die tweede was die seun van die weduwee van Nain wat in Lukas 7 vir ons opgeteken is en die derde was die opwekking van Lasarus in Johannes 11. Baie mense was getuienis van hierdie gebeure maar het steeds nie geglo nie. Sommige het wel geglo.
Maar al die Evangelies vertel die verhaal van Jesus se kragtige opstanding uit die dood. . Al hierdie vertellings dui op 'n kragtige wonderwerk ‑ die wegrol van die klip, die geskokte wagte en die man met wit klere aan – alles is vir ons opgeteken. En tog het mense steeds hulle harte verhard.
Maar wat beteken dit vir ons wat glo? Wel, Jesus se opstanding is nie dieselfde as die opwekking uit die dood van die ander drie nie. Want al drie van hulle het uiteindelik weer gesterf. Hierdie wonderwerke is gevalle van opwekking eerder as opstanding. Maar toe Jesus uit die dood opgestaan het, was dit vir ewig. Die dood is oorwin. En sy opstanding is 'n belofte vir almal wat op Hom vertrou dat hulle ook eendag uit die dood sal opstaan en die ewige lewe sal ontvang.
Ons praat nie nou oor diegene wat gesterf het voor die opstanding van Jesus nie. Dit is 'n onderwerp vir 'n ander keer.
Ons wat in Jesus glo, het van alle mense die meeste hoop. Dit is waar dat ons fisies wel sal sterf, maar ons sal nie vir ewig sterf nie. Die Here wat ons altyd beskerm, selfs wanneer ons siele by Hom is, sal ons uit die dood opwek. Ons sal nuwe liggame ontvang, op 'n nuwe aarde leef met 'n nuwe Hemel onder die regering van die ewige Koning. Moet nooit, nooit moed verloor nie.
Gebed: Vader in die Hemel, dankie dat U u Seun uit die dood opgewek het. Ek dank U ook vir die belofte dat almal wat in Hom glo, die ewige lewe sal ontvang en uit die dood opgewek sal word. Help my om dit regdeur die dag te onthou en om ook te onthou dat ek hoop het self wanneer ek so baie mense teëkom wat glo dat daar geen hoop is nie. Amen