Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 23 Oktober 2012

REGVERDIG GEMAAK

Frank Retief

MAAR nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig,  Romeine 3:21

Dink 'n bietjie oor hoe baie die goeie dade van groot manne in die wêreld al bereik het.  Alhoewel ons in 'n gevalle wêreld leef, moet ons nie vergeet dat ons na die beeld van God geskape is nie en daarom in staat is tot baie goeie dinge.  Maar ons is egter ook in staat tot die bose.  Filantrope het deur die eeue hospitale vir die siekes gebou, skole vir arm kinders en kos voorsien vir hulle wat honger is, en verskeie vernuftige planne beraam om diegene te help wat hulleself om een of ander rede nie kan help nie.  Dink 'n mens aan onlangse natuurrampe soos aarbewings en vloede, dan besef jy hoe welwillend en ruimhartig die wêreld kan wees.

Maar hoe goed, edel of prysenswaardig hierdie pogings ook al is, moet ons nie vergeet dat die Bybel ons leer dat deur ons goeie dade, deur ons eie "geregtigheid", word ons nie vrygespreek nie en leer ons God nie ken nie.  Ons kan Hom net waarlik ken as Hy Hom aan ons openbaar.

In hierdie teksvers lees ons dat dit presies is wat Hy doen. "Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar ...".  Watter soort geregtigheid is dit?  Dit is die geregtigheid van Christus wat al die goeie werke en edele dade wat mense oor al die eeue heen gedoen het, vervang.  En wat maak sy geregtigheid so spesiaal? Hy het Homself vir ons opgeoffer en versoening vir ons sondes bewerk.  God belowe ons dat almal wat in sy Seun glo geregverdig sal word – sy Seun wat reeds aan die kruis vir ons sondes betaal het. Dit beteken dat ek nie meer hoef te probeer om myself vir God aanvaarbaar te maak nie – want dit is 'n onmoontlike taak. Die onbevlekte geregtigheid wat God aan my gegee het, maak my aanvaarbaar vir die Vader.  So ek mag dalk voel asof ek 'n mislukking is, of baie moedeloos, maar nou weet ek my gevoel is nie belangrik nie.  Die waarheid oor my is belangrik en dit is dat ek "deur God geregverdig is". Ek is verlos, vergewe en vry van al my sondes en skuld.

Verder, dit is waarvan die Ou-Testamentiese wet en die profete al die tyd van getuig het.  So dit is nie nuut nie.  Dit is wat God reg van die begin af beplan het.

On moet egter nie ophou met ons goeie werke nie, ons moet dit eerder vermeerder, maar nou met die wete dat dit ons nie in die Hemel gaan bring nie, maar eerder as 'n bewys dat ons aan die Here behoort en dat die Hemel ons uiteindelike tuiste is.

Gebed:  Hemelse Vader, ons het nie woorde om u groot genade wat ons deur Jesus Christus ontvang het, te beskryf nie. Ek loof en prys U en ek dank U dat ek deur U geregverdig is en vir God aanvaarbaar is. Help my dat my lewe elke dag daarvan sal getuig.  Amen

Previous article: Vers n dag - 24 Oktober 2012 Prev Next article: Vers n dag - 22 Oktober 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.