Vers n dag - 22 Oktober 2012
VERLATE
Frank Retief
My God, my God, waarom het U My verlaat? Mark 15:34
Baie mense het al een of ander tyd in hulle lewens gevoel dat God hulle geheel en al verlaat het. Koning Dawid het definitief op 'n stadium van sy lewe so gevoel. Hy het 'n Psalm daaroor geskryf. Psalm 22. En dit is die openingsgedeelte van hierdie Psalm wat Jesus aan die kruis aanhaal.
Het ek gesê: "aan die kruis aanhaal?" Dit is nie eintlik 'n beskrywing van wat waarlik daardie Goeie Vrydag gebeur het nie. Hy het dit heel waarskynlik in diepe angs uitgeskreeu, gegil. In hierdie enkele vers, as ons dit reg verstaan, het ons die hele evangelieboodskap. Alles word saamgevat in Christus en sy dood aan die kruis. Hier aan die kruis gebeur iest so diepsinnig dat geen menslike verstand dit ten volle kan begryp nie. "Verlaat deur God?" Is dit moontlik? Liewe leser, dit waarmee jy hier gekonfronteer word, is die misterie van Christus was vir ons sondes gely het. Die finale verwerping wat ons eintlik moes beleef het, word nou op Hom gewerp. Hy dra ons sondes sodat ons vergewe mag word.
Moet dit asseblief nie ligtelik opneem nie. Wat hier gebeur is meer as wat woorde kan beskryf. Ons moet almal nederig en in verwondering vor God neerbuig. God straf sy eie Seun sodat ons vry kan wees! Het die wêreld al ooit van so iets gehoor.
Die waarheid is dat dit wel gebeur het. Dit beteken dat daar hoop is vir elkeen wat na Hom toe kom. Die boodskap van die kruis is dat selfs die mens wat dit die minste verdien, vergifnis, aanvaarding en hoop vir die toekoms sal ontvang as hy in ware en opregte berou na Jesus toe kom. Dit gee dikwels diegene aanstoot wat eerlik en opreg leef en wat van mening is dat slegte mense gestraf moet word. Maar wat hulle nie verstaan nie, is dat slegte mense wel gestraf is. Die Een wat vir hulle ingestaan het, het hulle straf gedra. 'n Billike ruiltransaksie het plaasgevind. Hy wat geen sonde geken het nie, het sonde geword sodat hulle deur Hom regverdig voor God kan staan.
Is daar 'n naam vir hierdie soort aksie? Ja! Dit is genade. Genade, onverdiende genade vir sondaars, mits hulle na Hom toe kom – na die God/Mens, wat die Verlosser aan die kruis geword het.
Laat ons nie moed verloor nie. Alle sondes kan vergewe word. Alle sondaars kan aanvaar word. Kom kniel by die kruis. Kom! Kom vandag nog.
Gebed: O, Hemelse Vader, ek staan verwonderd oor die grootheid van die gebeure op Golgota. Dat Jesus vir my gesterf het, is ongelooflik. Help my om dit te glo en te aanvaar. Vergewe my sondes en maak my u kind vir altyd. Amen.