Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 19 Oktober 2012

GETSEMANE

Frank Retief

“My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Matteus 26:39

Baie van ons het al donker gemoedswolke voel saampak of depressie beleef voordat ons 'n spesifieke krisis moes hanteer.  Maar niemand het nog beleef wat Jesus voordat Hy gevange geneem is, aan die hange van die Olyfberg in die tuin van Getsemane, beleef het nie.

Let op die woorde in Matteus 26:37.  "Hy het bedroef en beangs geword" Dan verder in vers 38 lees ons: “Ek voel doodsbenoud.... " Waaroor gaan dit?  Was Jesus net bang vir die verskriklike fisiese beproewing wat op Hom gewag het?  Dit kan nie wees nie, want duisende voor Hom is reeds gekruisig en sommige van hulle het dit met groot dapperheid en selfs met minagting teenoor hulle Romeinse laksmanne verduur.

Nee!  Iets baie belangriker was besig om hier te gebeur. Die probleem was dat dit wat besig was om te gebeur het in sy siel gebeur, daar waar niemand dit kon sien nie. Hy was op die punt om die sondes van die wêreld op Hom te neem. Hy het ons las gedra en Hy was op die punt om Homself as plaasvervanger in ons plek te offer. Sonde moet gestraf word.  God is regverdig, en nie onwelwillend nie.  Maar geregtigheid moet geskied sover dit die sonde aangaan. En sy Seun was op die punt om die straf wat ons toekom, te dra. Hy, in plaas van ons, het die oordeel van God in die gesig gestaar.

Maar wat het hierdie oordeel behels?  Dit het beteken dat Hy uit die teenwoordigheid van sy Vader verban sou word.  Ons kan nie eers begin om ons voor te stel wat dit vir die Tweede Persoon van die Drie-eenheid moes beteken nie – Hy wat vir altyd in die teenwoordigheid van die Vader was. Die belangrikste wat jy moet onthou, is dat dit alles vir jou was.  "Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was."(Romeine 5:8)

Moet nooit aan God se liefde vir jou twyfel nie.  Moet nooit dink dat jy nie goed genoeg is nie en dat God Hom nie aan jou steur nie. Onthou Getsemane. Daar het Hy jou skuld op Hom geneem en Hom voorberei om jou straf te dra.  Hoekom?  Want Hy het jou selfs voor jou geboorte reeds liefgehad.

Wees nederig, verwonderd en oorstelp. Maar moet nooit moed verloor nie.  Moet nooit aan sy liefde twyfel nie.

Gebed: Hemelse Vader, u liefde oorstelp my.  Ek voel dat net deur van Getsemane te lees ek op Heilige Grond loop.  Dankie dat U my nie waardeloos ag nie. U het u Seun gestuur om vir my te kom sterf.  Hoe groot is u liefde. Ek kniel voor U neer en aanbid U. Amen

Previous article: Vers n dag - 22 Oktober 2012 Prev Next article: Vers n dag - 18 Oktober 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.