Vers n dag - 12 April
TEMA VIR REEKS: “VAN VREES NA VRYHEID... IN 25 DAEâ€
NEEM DEEL: Het jy spesifieke temas/vrese waaroor jy graag meer wil lees, stuur gerus ’n epos aan
DAG 5: BESKERM DIE VREUGDE IN JOU HART!
Deur: Benescke Botha
Wat is die eerste emosie wat jy ervaar wanneer jy ’n verjaarsdagkoek vol kersies sien? Geluk? Blydskap? Gestel nou vir ’n oomblik dat die vreugde in jou lewe met ’n koek vol brandende kersies vergelyk kan word en dat die vyand daarop uit is om elke hoek en draai te probeer om die kersies een vir een uit te doof. Met dÃt in gedagte, sal jy nie vroegtydig ’n manier probeer vind om die kersies ten alle koste te probeer beskerm nie?
Hoekom wil die vyand ons vreugde steel? In Nehemia 8:10-11 (1953-vertaling) lees ons dat ons blydskap in die Here, vir ons ’n beskutting en krag is. Wanneer ons, onsself dus in God verbly en vir Hom dankie sê vir elke genadegawe in ons lewens, is dit kompleet asof ons ons oë opnuut op Hom plaas en terselfdertyd dieper onder sy beskuttingsvlerke inklim. Net so, sou ons aanhoudend kla, ons fokus op ons probleme en vrese plaas en wegkyk van God, sal ons geloof nie net verminder nie, ons krag sal verdwyn terwyl ons onder God se beskuttingsvlerke uitbeweeg. Só word ons ’n oop teiken vir die vyand om ons aan te val en ons vreugde makliker te steel.
Hoe steel die vyand ons vreugde? Hy doen dit in die alledaagse dinge. Hy plaas ’n stadige bestuurder voor jou in die verkeer en jy verloor jou humeur. Hy stuur jou knorrige baas om jou in ’n geïrriteerde stemtoon in te lig dat hy ’n spesifieke dokument (wat steeds op jou lessenaar lê) reeds gister op sy tafel verwag het. Hy stuur een van jou klaende kollegas met ’n soetsappige skinderstorie of ’n storie wat vrees aanblaas – veral in die onstabiele klimaat in ons land. Dit is in hierdie tye dat jy voor ’n keuse staan om jou kersies te beskerm of toe te kyk hoe hulle een vir een uitgedoof word.
Hoe beskerm ons die vreugde in jou hart? Jy kies om die negatiewe nuus of situasies in jou lewe in ’n positiewe te verander. As jy agter ’n stadige bestuurder in die verkeer land, dank God dat jy vir ’n paar minute ekstra met Hom kan gesels. As jou knorrige baas jou ’n onredelike opdrag gee, dank God dat jy wel nog ’n werk het en gebruik die geleentheid om vir die baas te bid. En as een van jou kollegas met ’n soetsappige of ’n vreesaanjaende storie by jou opdaag, kies om nie deel te neem nie, maar om God te dank dat Hy steeds in beheer is van elke situasie en dat Hy altyd die laaste sê het.
Hoe lyk jou koek se kersies vanoggend? Is daar al ’n paar uitgedoof? Klim terug onder God se beskuttingsvlerke in. Maak ’n punt om nuwe kersies aan te steek deur God te dank vir alles wat jy wel in jou lewe het! En onthou, navorsing het bevind dat mense wat gereeld lag nie net gemiddeld langer leef as mense wat selde of nooit lag nie – hulle is ook gesonder en het heelwat minder plooie (buiten vir lagplooie, natuurlik)!
Vader God, baie dankie vir elke genadegawe wat ek daagliks onverdiend uit u hand ontvang. Lei my deur u Heilige Gees om geen van die voorregte in my lewe mis te kyk nie! Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
TERUGVOER: Is daar spesifieke temas waaroor jy in die huidige reeks meer wil lees? Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle na:
HET JY ’N GETUIENIS? Wil jy graag met ons en moontlik met ons lesers jou getuienis deel van wat God in jou lewe gedoen het? Stuur ’n epos aan:
Â
BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag dagstukkie te adverteer, kontak gerus