Vers n dag - 24 Augustus 2012
Titel: Berge
Francois Sieberhagen
'n Pelgrimslied. Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Psalm 121:1, 2
Tydens ʼn besoek aan die Laeveld van Mpumalanga staan ons en kyk af op die Rondawels en die Blyderivier. Daar is net een woord om die gesig te beskryf en dit is asemrowend.
Ons land is besonder geseënd met die mooiste berge. Hoë kranse, diep valleie en pragtige voetheuwels. Altyd besonders om vas te vang op kamera. Deel van die wonderlikste reekse is die Drakensberge wat ook die hele Lesotho insluit.
Tydens ʼn besoek aan Lesotho ry ons al op die kruin van die berge, verby mense wat karig geklee is in rubberskoene en met komberse om die skouers. So hou ons aan met die pad, verby daar waar die teer ophou. Skielik wys die berge hul onvoorspelbaarheid. Die miswolke sak oor ons neer en dan verskyn daar ʼn perderuiter. So van nêrens af nie. Amper spookagtig. Die foto weerspieël die gevoel. ʼn Man alleen op pad.
Waar die grondpad ophou daar ontmoet ons ʼn klomp mense. ʼn Groot groep is veewagters. Sommige is bitter jonk. My kamera werk oortyd. Ons is daar om aan hulle die brood vir die lewe te gee, maar toe hulle regte brood en vrugte kry is hulle vreeslik opgewonde. Die oorgawe waarmee die leë kolletjie in die mae gevul word maak vir ongelooflike mooi, maar hartseer foto’s.
Die berge is pragtig, maar vir hierdie veewagters hou dit ook groot gevaar in. Daar is die wilde diere, die weerlig en die sneeu. Miskien is dit juis hierdie mense wat iets snap van wat dit beteken om op te kyk na die berge. Om te wonder waarvandaan daar vir hulle hulp sal kom in hul besonderse uitdagende omstandighede. Hulle is immers ook pelgrims op pad.
Wat ʼn wonderlike wete om te weet die God wat my geskape het na sy beeld en gelykenis is so groot, hy het die aarde in al sy majestieusiteit geskape. Wat ʼn wete om te besef dat Hy in beheer is van sy handewerk. Ook van my en jou.
En as ons hulp nodig het, weet ons waarheen om te kyk.
Gebed: Dankie Here dat u in beheer is van die wêreld en van die mens, ook van my. Amen.