Vers n dag - 27 Augustus 2012
Titel: Hoor en doen
Francois Sieberhagen
Terwyl Jesus nog besig was om te praat, het 'n vrou uit die menigte hardop uitgeroep en vir Hom gesê: “Hoe bevoorreg is die vrou wat U in haar liggaam gedra en aan haar bors gevoed het!” Maar Hy sê: “Nog meer bevoorreg is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou.” Lukas 11: 27, 28
Reg oor die lengte en breedte van Suid-Afrika is daar letterlike tientalle groepe gelowiges wat weekliks bymekaarkom om na die woord van God te luister. Hulle vorm deel van die Faith Comes by Hearing- program.
Die hele Nuwe Testament is gedramatiseer opgeneem. Dit word verpak in ʼn meganisme wat die Proclaimer genoem word. Luistergroepe word gevorm om weekliks bymekaar te kom om kronologies en sistematies deur die hele Nuwe Testament te luister. Vrae word gevra en besprekings word gevoer oor dit wat gehoor is.
By meer as een geleentheid het ek die voorreg gehad om groepe te gaan afneem wat besig is met die luisterprogram of wat dit pas voltooi het. Deurgaans is die getuienisse wat gelewer word een van dankbaarheid en van geestelike vrug op die luisterproses.
Tydens hierdie fotosessies vertel hulle vir my hoe hulle dit geniet om in groepsverband te luister. Leiers vertel van die moeilike vrae wat gevra word. Skielik is hierdie gelowiges wat andersins randfigure sou wees bemagtig om die Woord te hoor en te gaan onderhou.
Waar hierdie program by skole gevolg word vertel onderwysers van ʼn gesindheidsverandering by leerders.
Wanneer sertifikate oorhandig word om getroue bywoning te beloon gaan dit gepaard met groot opgewondenheid. Erkenning word verleen vir getrouheid en toewyding.
Tydens ʼn besoek aan ʼn aftreeoord kan die groepslede nie uitgepraat raak oor wat dit wat die luistersessies vir hulle beteken nie. “Ons het beslis gedeeltes gehoor waaroor daar nog nie vir ons gepreek is nie,” vertel die een dame entoesiasties.
Inderdaad is hulle wat andersins uitgesluit sou wees bevoorreg om die Woord te hoor, maar meer nog om dit te gaan onderhou, want nou weet hulle self wat die eise is. Hulle het self met die Woord omgegaan.
Ons wat nog kan lees is bevoorreg om met Sy woord om te gaan. Kom ons koester dit.
Gebed: Here, leer my om so met u woord om te gaan dat ek sal hoor, maar ook getrou sal onderhou. Amen.