Vers n dag - 23 Augustus 2012
Titel: Bybel in my taal
Francois Sieberhagen
U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. Psalm 119:105
Seker die grootste uitdaging waarvoor Bybelgenootskappe te staan kom is om betroubare bronteksgebaseerde vertalings die lig te laat sien. Trouens, dit is die missie van die Bybelgenootskappe wêreldwyd om die Bybel te vertaal in die hartstale van die mense. Dit gaan egter nie net oor vertaal nie, maar dit gaan ook daaroor dat hierdie vertalings opgetel en gelees sal word.
Met die aanvang van die Suid-Ndebele vertalingsprojek is daar baie foto’s geneem. Ons kon die storie vertel van die vertaalspan wat bymekaarkom kom in ʼn klein kantoortjie by die Universiteit van Pretoria en daar sit en werk. Agter rekenaars met verskillende Bybels en woordeboeke oop voor hulle.
Baie jare later kon ons weer die finale sessie op foto vasvang. Dit was dieselfde mense. Dieselfde span, net ʼn bietjie ouer met meer grys hare. Al verdoesel sommige dit met haarkleur, is dit daar. Wat egter nie afgeneem het nie is die passie en toewyding waarmee die projek aangepak is. Dieselfde liefde vir hul taal is nog aanwesig by Peter Mabena en David Mahlangu. So ook by Prof. Andries Breytenbach, tevrede dat hy die taal wat hy as kind aangeleer het, kon aanwend in diens van die Here.
Die Suid-Ndebeles het darem toegang tot die Nuwe Testament in hulle moedertaal gehad. Maar nou sal hulle later vanjaar die hele Bybel in hul hartstaal kan lees. Voorwaar sal hulle kan sê die Here se woord is die lamp wat die weg wys en die lig op hul pad.
Ongelukkig is daar nog 1314 tale wat gepraat word in Afrika waar daar nog niks van die evangelie op skrif is nie. Hierdie tale is die hartstale van mense en hulle is nou afhanklik van ʼn tweede of selfs ʼn derde taal om met die woord om te gaan. Inderdaad ʼn geweldige behoefte wat bestaan.
Daar is verskeie projekte tans aan die gang om dié behoeftes aan te spreek. As in gedagte gehou word dat dit tien jaar en langer kan neem om die Bybel te vertaal, dat dit derduisende rande kos om so ʼn projek te voltooi, is die uitdagings baie.
Daar is dus meer as genoegsame rede om ons Bybels te koester.
Gebed: Dankie dat ek u woord in my eie hartstaal kan lees. Amen.