Vers n dag - 22 Augustus 2012
Titel: My Bybel
Francois Sieberhagen
Moet jou nie oor my verlekker nie, my vyand, al het ek tot 'n val gekom, ek sal weer opstaan, al sit ek in die donker, die Here is my lig. Miga 7:8
Die Bybel, as Woord van God is die metgesel van die gelowige op sy lewenspad. Dit is die Bybel wat die rigtingwyser is, maar meer nog as dit, wat die gelowige op die pad van heiligmaking neem, wat jou lei en begelei.
Tydens ʼn besoek aan Angola woon ek ʼn erediens by in Hoje-ya-henda, ʼn voorstad in Luanda. Ek verstaan nie veel van die verrigtinge nie, my Portugees is nie baie goed nie, maar wat my opval is die verslete Bybel wat op die trom langs die vrou wat die tromslaner is lê. Dié Bybel vertel ʼn storie van ʼn gebruikte boek. Daar is merke by versies, die omslag is weg en die bladsye krul om van al die gebruik. Maar dit word trots kerk toe gebring. Die Bybel is belangrik. En my kamera vang die besonderse prentjie vas.
Danie Viviers skryf vir my en vertel van die rol wat die Bybel in sy lewe vervul. Hy skryf: “As jy in die sonsondergang van jou lewe kom, en jy blaai deur jou onderstreepte Bybel, sien jy die volledige legkaart van jou lewe, en dan eers begryp jy die pad wat die Here met jou geloop het.”
Vandag is daar soveel formate van Bybels beskikbaar. Van Uitreikbybels tot Selfoonbybels. Van gedruk op papier tot digitaal asook in die kuberruim. Daar is amper nie meer ʼn verskoning om nie ʼn Bybel te besit nie.
En tog is daar soveel in ons land wat nie ʼn Bybel het nie, gewoon omdat hulle dit nie kan bekostig nie. Mense vir wie ʼn Bybel net te veel kos.
Die Bybelgenootskap het pas ʼn miljoen rand bewillig om Uitreikbybels aan Graad 7 leerders in ons land gratis beskikbaar te stel. Hierdie is ʼn poging om werklik ʼn verskil te maak in jongmense se lewens.
Hopelik sal hierdie Bybels jongmense help om op te staan in tye van afvalligheid, om te bly staan in die aangesig van versoeking en te help om aan die einde van hulle lewenspad op aarde te sien hoe God vir hulle lig gebring het.
Hoe lyk jou Bybel?
Gebed: Dankie vir u Woord Here, dankie dat dit die lig is op my lewenspad.