Vers n dag - 21 Augustus 2012
Titel: Wysheid
Francois Sieberhagen
Tree met wysheid op teenoor die mense wat nog buite die gemeente is. Maak die beste gebruik van elke geleentheid. Kolossense 4:5
Tydens ʼn besoek aan ʼn skool in Niamey, Niger; ʼn land wat 99% Moslem is, staan ek verwonderd oor wat Christene doen en regkry. Daar is oor die 500 kinders in dié skool en slegs 10 van die kinders kom uit christen-huise. Hierdie skool is verder ʼn kerkskool en al die onderwysers is Christene.
Die hoof vertel met groot deernis wat hulle uitgangspunte is in die land wat besonderse eise aan Christene stel. Dit blyk dat die skool onbeskaamd christelik is, maar terselfdertyd top kwaliteit onderwys aanbied. Hierdie twee sake is ononderhandelbaar. Aan die anderkant is dit die tipe optredes wat ʼn mens van gelowiges sou verwag. Elke oggend word ʼn Bybelles aangebied en die kinders leer en sing christelike liedere voordat die normale onderrig in aanvang neem.
Die ouers wat nie gelukkig is met die onderrigmetodiek nie, kan hul kinders uit die skool neem. Die hartseer van die land is dat hul hele onderwysstelsel vir alle praktiese doeleindes in duie gestort het. Daar is nie baie keuses vir skoolopvoeding nie.
Ek merk geen greintjie arrogansie of leedvermakerigheid by die hoof of onderwysers op nie. Vir hulle is christenskap erns en die uitlewing daarvan ʼn prioriteit. Hulle bring die boodskap helder en duidelik, sonder om aanstoot te gee. Daar is nie dwepery nie.
Soos kinders maar is, neem hulle met oorgawe deel aan die fotonemery. Daar is die normale hoeveelheid seuntjies wat met narrestreke vorendag kom en die dogtertjies wat vreeslik skaam is. Ek kry die mooiste kleurvolle foto’s. Foto’s van gelukkige kinders.
Geleenthede om ʼn getuienis te lewer is iets wat elke dag op en oor ons pad kom. Geleenthede kom ook dikwels op die mees onwaarskynlike tye vorendag. Vir ons as gelowiges vra dit dat ons regtig ingestel sal wees op dié geleenthede en dat ons voorbereid sal wees om ʼn getuienis te lewer. Dat ons sensitief en met wysheid sal optree. Dat ons met ʼn sagte hand sal werk. Dat die liefde van Christus Jesus in en deur ons optredes sigbaar sal word. Soos die spreukwoord lei, “woorde wek, maar voorbeelde trek.”
Gebed: Here, gee dat ek vandag met wysheid sal optree as die geleentheid hom voordoen om ʼn getuie vir u te wees.