Vers n dag - 20 Augustus 2012
Titel: My storie
Francois Sieberhagen
God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly. Filippense 1:29
Lyding, neem baie vorme aan. Lyding kan wees as gevolg van siekte, armoede of selfs verwerping as gevolg van jou belydenis. Lyding in al sy verskillende vorme skep uitdagings.
As fotograaf word jy baie gekonfronteer met die gevolge van lyding in die wêreld, veral as jy dit wil vasvang. Gewoonlik is dit mense wat met ʼn moedige glimlag vir jou laat verstaan alles is reg, totdat jy die kamera eenkant toe skuif. Sodra dit gedoen word, word daar diep en ernstig gesels. Dan kom die seer wat dikwels vlak sit vinnig na die opervlakte en word al die implikasies verwoord.
Tydens my omswerwinge besoek ek ʼn groep mense in Rwanda. Ons is hoog in die berge, ver van die hoofroetes. Van die mense begin na aanleiding van hul nood en omstandighede met my gesels. Die verhale wat aan my vertel word getuig van leeuemoed en ʼn groot geloof. Van mense wat vashou aan God in Christus om vir hulle te voorsien en uitkoms te gee.
“Wat gaan jy vir ons doen?” vra hulle my. Dit konfronteer my dadelik met wie ek is en wat ek probeer doen. Ek kyk hulle in die oë en sê: “Al wat ek kan doen is om julle storie te vertel En dit gaan ek doen na die beste van my vermoë. Wat daarna gaan gebeur weet ek nie.”
Was dit genoeg? Miskien nie, maar materieel kon ek nie veel doen nie. Miskien was die oor wat ek verleen het dalk ook vir hulle ʼn geleentheid om dit wat hulle in die hart saamdra te verwoord.
Later het ek besef dat hierdie groep mense ʼn geweldige positiewe invloed op my lewe gehad het. Die rede was eenvoudig. Die getuienis wat hulle geleef het in hul lyding was navolgenswaardig. In hul lyding kon hulle nog lof en eer aan God bring. In hul lyding het hulle hul geloof geleef.
Baie van ons ervaar lyding en ook kruis ons paaie met mense wat lyding ervaar. Die vraag wat dadelik by ons moet opkom is: “Wat sien mense as hulle paaie met myne kruis? Wat ervaar hulle?” Christus?
Gebed: Here, help my dat ek elke dag Jesus vir ander in en deur my optrede sal wees. Amen.