Vers n dag - 17 Augustus 2012
Titel: Eie Bybel
Francois Sieberhagen
En die Koning sal hulle antwoord: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.” Matteus 25:40
Daar is ʼn groep motorfietsryers wat jaarliks onder die vaandel van die Bybelgenootskap bymekaarkom en met hulle motorfietse toer en Bybels by agtergeblewe gemeenskappe plaas. Hulle noem hulself die Word Riders. Tydens die eerste Word Riders toer besoek die groep ʼn plaasskool buite Ladysmith in KwaZulu-Natal. Die leerders by Umvolu Laerskool kom van die omliggende plase af.
In hulle moedertaal word die Graad 7 leerders wat die Zulu Uitreikbybels gaan ontvang aangespoor om erns te maak met die lees van die Bybel en die boodskap wat hulle daaruit kry te gaan toepas in hulle lewens. Die kinders se gesiggies is baie ernstig. Hulle besef die erns van die oomblik. My kamera kliek onophoudelik en toe hulle die verrigtinge afsluit met die opsê van die Onse Vader in Afrikaans is daar menige oë wat nat is.
Daar is ook ʼn paar Zulu Kinderbybels wat saamgegaan het. Een van die lede van die groep vat die Bybels en gee dit aan die paar kleiner kinders wat daar is. Kinders wat moes wag vir hulle ouer boeties en sussies. Die dankbaarheid en opgewondenheid kan nie weggesteek word nie. Hul oë vertel die storie.
Ek neem ʼn foto van een van ons motorfietsryers wat staan met twee van die kleiner kinders. Sy groot arms omvou hulle en in sy oë sien ek net liefde. Die liefde van Christus wat deur hom na vore kom in hierdie gebaar van ontferming.
Ek dink aan dié vers in Matteus 25. Hierdie kinders is voorwaar van die geringstes. Hoe kan ons nie anders as om uit te reik nie? Die liefde van Christus dring ons mos.
Daar is baie geringes in ons samelewing en hulle lyk almal verskillend en is in verskillende posisies. Mense wat nie het wat ons het nie, wat nie so bevoorreg is soos ons nie. Mense wat dalk smag, nie noodwendig na die materiële nie, maar ook na geestelike voedsel en geestelike wel wese. Hoe kan ons ʼn geleentheid om uit te reik laat verbygaan?
Gebed: Jesus, help ons om die liefde wat u vir ons het prakties te gaan uitleef teenoor die geringstes daarbuite. Amen.