Vers n dag - 16 Augustus 2012
Titel: Omgee
Francois Sieberhagen
As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg. Jakobus 2:8
Joyela is net ʼn spikkel op die landkaart van Swaziland. By die Matjetjeni Care Point, wat niks anders is as ʼn geboutjie met ʼn dak op nie ontmoet ek die wonderlikste mense. Vroue vanuit die gemeenskap wat inkom en vir ʼn groep kinders onderrig gee. Hierdie kinders kan gewoon nie die gewone skole bywoon nie. Hulle kan dit nie bekostig nie. Hier kry hulle iets om te eet en word hulle geleer om te lees en skryf. Niks meer nie.
Dié kinders kom uit baie armoedige omstandighede en in hulle gemeenskap het die gevreesde siekte kwaai toegeslaan. Bongiwe Shongwe is skaars nege jaar oud en sy het ʼn mooi oop gesig met die pragtigste glimlag. Sy is ook nie skaam om vir my model te speel nie. Sy glimlag van oor tot oor. Sy geniet die aandag soos net ʼn kind kan. Terwyl ek die foto’s neem wonder ek oor haar toekoms. Wat gaan van hierdie dogtertjie word? Gaan sy al die geleenthede kry wat sy verdien? Gaan sy so gelukkig wees om die gevreesde siekte vry te spring?
Ek kry ook kans om die groter prentjie vas te vang. Die van mense wat omgee en wat prakties hulp verleen. Wat bereid is om op te offer, wat bereid is om iets terug te ploeg in hul samelewing. Om hul geloof prakties te vergestalt.
Ons almal weet dat naasteliefde nie gaan oor die vraag wie my naaste is nie, maar eerder oor vir wie ek ʼn naaste kan wees. Soos in Joyela is daar derduisende gelowiges wat landwyd daagliks na ander uitreik. Hierdie uitreike vind op verskillende wyses plaas, maar daar is een gemene deler tussen al die projekte, en dit is die gehoorsaamheid aan die opdrag van Jesus: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
Hierdie opdrag vra selfopoffering en vra ʼn geopende geloofsoog om nood en behoeftes raak te sien. Hierdie opdrag vra dat ek buite my gemaksone sal beweeg en betrokke sal raak, tydig en ontydig.
Gebed: Here, open my oë om raak te sien waar ek vandag ʼn verskil aan ander se lewens kan maak. Daar waar ek u liefde prakties kan vergestalt. Amen.