Vers n dag - 15 Augustus 2012
Titel: Die Bybel my lewe
Francois Sieberhagen
Daarom het ek gesê: “Hier het ek gekom soos dit in die boekrol vir my voorgeskrywe is. Om u wil te doen, my God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe.” Psalm 40:8,9
Dit is aangrypend om die bekendstelling van ʼn nuwe Bybel, veral as dit ʼn eerste vertaling is, by te woon. Gewoonlik is die vertalers daar, kerkleiers en dan die publiek. Gelowiges wat in baie gevalle talle jare moes wag op dié vertaling. Gewoonlik gaan dit gepaard met sang, danse en luidrugtige lofprysings. Vir jou met jou kamera is die geleentheid om besonderse foto’s te neem gewoonlik goed.
Tydens die bekendstelling van die Nuweleser-Bybelgedeeltes in !Xuhn by Platfontein naby Kimberley in 2009 ontmoet ek Moses Ndala - ʼn man naby aan die sewentig.
Hy is pynlik netjies aangetrek met ʼn wit hoed op die kop. Hy sit eenkant op ʼn trappie en lees hardop uit die Nuweleser-Bybelgedeelte Boekie B. Vir die eerste maal kan hy in sy moedertaal iets van Jesus lees.
Ek beweeg nader en neem die foto. Die flits van die kamera pla hom nie. Hy is absoluut vasgevang in dit wat hy lees. Toe ek nader staan om met hom te praat kyk hy op en sy oog maak kontak. “Dit is waar wat hier staan. Jesus is die Seun van God.”
Moses Ndala moes oud word voordat hy iets vanuit die Bybel in sy eie taal kon ontvang. Na alle waarskynlikheid gaan hy nie die hele Bybel binnekort in sy moedertaal ontvang nie.
Die groter prentjie waarbinne Moses Ndala hom bevind is ʼn hartseer verhaal van ontwrigting, van verplanting en van voete vind in ʼn vreemde en nuwe land. Die kleiner prentjie wat vasgevang is vertel die storie van ʼn gelowige wat ʼn liefde vir sy taal en die Bybel het, al is dit nie in sy moedertaal nie.
Dit is voorwaar inspirerend om so iemand te ontmoet. Iemand wat nie skaam is om sy liefde vir die Bybel te verwoord nie. En vir ons as gelowiges moet dit dien as aansporing om ook dieselfde liefde vir ons Bybel te openbaar.
Mag dit wees dat ons soos die Psalmis sal sê: “u woord is my hele lewe.” En as dit ons belydenis is dat ons lewe dit sal reflekteer.
Gebed: Here, laat my liefde vir u Woord sigbaar word in my woorde, gedagtes en optrede. Amen.