Vers n dag - 31 Julie 2012
HUIDIGE REEKS: LEEF GELUKKIG... VANDAG
(Het jy die reeks geniet? Stuur vir ons jou terugvoer na
DAG 22: LEEF GELUKKIG... VANDAG (DIE SLOT)
Deur Benescke Janse van Rensburg
[TEN SLOTTE: Baie dankie vir elke e-pos wat ek oor die afgelope maand ontvang het. Dit bly vir my ’n groot voorreg om te sien waar die Heilige Gees besig is om lewens te verander en mense nader aan God te trek. Ek sluit vandag die tema af met ’n samevattende terugblik oor ’n paar van die temas wat ons in die reeks bespreek het. Ek hoop dit help jou om voortaan elke dag gelukkig te leef! Groete tot ons weer gesels, Benescke]
Daar bestaan drie tipes mense: ’n Gister-mens wat in die verlede vasgesluit sit. ’n Môre-mens wat primêr op die toekoms gefokus is. En vandag-mense wat bewus is van hulle teleurstellings en foute uit die verlede, maar hulle laat hulle nie daardeur gevange hou nie. Vandag-mense leef elke dag gelukkig omdat hul besef dat as die dag verby is, hulle dit nooit weer sal terugkry nie.
Hoe word ons vandag-mense? In Filippense 3:13-15 gee Paulus die antwoord: “Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.”
Hier is ’n paar beginsels om vandag gelukkig te leef:
LEEF GELUKKIG SONDER BLOKKASIES:
- In Mattheus 5:23-24 sê Jesus: “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.”
LEEF GELUKKIG SONDER BEKOMMERNISSE EN VREES:
- In Psalm 37:5 lees ons: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”
LEEF GELUKKIG EN GEHOORSAAM AAN GOD:
- In Psalm 112:1-2 skryf die Psalmdigter: “Dit gaan goed met iemand wat die Here dien en wat baie lief is om te doen wat die Here sê. Sy nageslag sal belangrike mense wees in die land” (Die Bybel vir Almal-vertaling).
LEEF GELUKKIG AL IS JOU HART GEBROKE:
· In Psalm 147:3 lees ons: “Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde.” (1953-hersiening)
LEEF GELUKKIG TE MIDDE VAN MOEILIKE TYE:
- In 2 Korintiërs 12:9 skryf Paulus dat hy vir God drie keer gevra het om ’n doring uit sy vlees weg te neem. God se antwoord was egter: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
LEEF GELUKKIG, DEUR NA ANDER UIT TE REIK:
· In Mattheus 25:40 sê Jesus: “Dit verseker Ek julle: Vir sovêr julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”
LEEF GELUKKIG AS ’N VREDEMAKER:
- In Mattheus 5:9 sê Jesus: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”
Kom ons leer uit die verlede en beplan vir die toekoms, maar kies om vandag gelukkig te leef deur elke geleentheid wat ons pad kruis om iemand anders se lewe beter te maak, aan te gryp. Só leef ons immer gelukkig, vandag. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek daagliks my lewe nuut aan U kan gee. Lei my om my geluk daagliks in U te vind. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, spreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms is beskikbaar by Kalahari.net en ook toonaangewende boekwinkels.