Vers n dag - 1 Augustus 2012
Titel: Deur my lens
Francois Sieberhagen
...wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net 'n bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon,” Psalm 8:5,6
Van tyd tot tyd het ek die voorreg om deur die lens van ʼn kamera na die wêreld daarbuite te kyk. Dit is nogal verstommend hoe die groter prentjie skielik baie klein word as jy begin om mense en die omgewing vas te vang. Wat egter waar is, is dat wanneer jy na 'n tyd na die kleiner prentjie kyk daar ʼn klomp herinneringe opgeroep word. Skielik raak die kleiner prentjie weer groot en uitgebreid.
Dit gebeur telkemale as ons ook gebeure in ons lewens in herinnering roep. Ons vergeet van so baie van die dinge wat oor ʼn periode van tyd gebeur het, en dan skielik op ʼn dag, so van nêrens kom ʼn klomp beelde en herinneringe na vore.
Ek wil jou nooi om so vir ʼn oomblik net stil te sit, jou lewe baie kortliks in herinnering te roep. Van kindsbeen af tot waar jy vandag in jou lewe staan. Wat sien jy? Hoe lyk die beelde en prentjies wat by jou opkom?
Daar is prentjies wat jou laat glimlag, van oor tot oor, miskien selfs hardop laat lag. Ja, en dan is daar die prentjies wat by ons baie hartseer en weemoed oproep. Dan is daar ongelukkig ook nog die prentjies wat vertel van mislukkings, teleurstellings en jou noop om jou kop in skaamte te laat sak. Hierdie prentjies kan so maklik veroorsaak dat ons die groter prentjie miskyk. Dat ons vergeet wat die konteks is waarbinne dit gebeur het en wat uiteindelik die uitvloeisel daarvan was.
Die Psalmis ervaar ook baie van hierdie gemengde gevoelens, maar dan kom hy tot ʼn slotsom. God is in beheer, ten spyte van. God heers en God laat dinge gebeur tot sy eer. En daarom kan hy nie ander as om God se lof te besing nie. En by dit alles, dat God omgee vir iemand wat net ʼn spikkeltjie is gemeet aan die groot heelal. Belangrik genoeg in die klein prentjie, maar met ʼn besonderse plek in die groter geheel.
Al voel jy dalk vandag klein en vasgevang in ʼn klein prentjie, jy is deel van God se groter prentjie.
Gebed: Here, help my om vandag so te lewe dat die groter prentjie in en deur my lewe sigbaar sal word. Amen