Vers n dag - 30 Julie 2012
HUIDIGE REEKS: LEEF GELUKKIG... VANDAG
DAG 21: LEEF GELUKKIG...AS ’n VREDEMAKER
Deur Benescke Janse van Rensburg
Vandag deel ek nog ’n geheim met jou om gelukkig te leef: Word ’n vredemaker.
’n Tyd gelede hoor ek iemand sê dat hy dink hy is aan vrede verslaaf. Waar hy voorheen altyd sy mening wou laat geld of ’n argument wou wen, het hy besef dat die persoon wat vrede sy of haar doelwit maak en bereid is om eerste jammer te sê, die persoon is wat oor wysheid beskik – en die een is wat werklik as die wenner wegstap. Ek stem volkome saam.
Die wêreld mag vredemakers as swakkelinge bestempel, maar Jesus noem hulle in Mattheus 5:9, kinders van God: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”
Die wêreld mag jou wysmaak dat jy alle reg het om ’n wrok te koester, iemand uit jou lewe te sny of kwaad met kwaad te vergelyk, maar in Efesiërs 4:26-27 lees ons: “As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie.”
En die wêreld mag jou wysmaak dat sukses alles is en dat dit nie saak maak hoeveel mense jy seermaak, hoeveel vyande jy opbou of hoeveel brûe jy verbrand op pad boontoe nie, maar in Kolossense 3:15 lees ons: “En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar.”
Beteken dit dat jy nooit met enigiemand mag verskil nie? Natuurlik nie. As daar ’n saak is wat aangespreek moet word, doen dit, maar maak dit jou doelwit om die geskik uit te sorteer en met die ander persoon te versoen en nie om die persoon seer te maak of om potensieel ’n gebroke verhouding agter te laat nie.
Met vrede in ons lewens, neem ons beter besluite, ons het beter perspektief op moeilike situasies en ons kan God se stem duideliker hoor omdat ons nie toelaat dat aanstoot, bitterheid, vrees of aggressie ’n houvas op ons kry nie. Hierdie is alles dinge wat blokkasie in ons verhouding met God te vorm.
Ek kan getuig dat vandag ek vrede my doelwit in my lewe begin maak het, ek groter geluk in my lewe ervaar. Vandag is ek nie skaam om eerste die foon op te tel of na iemand te stap om jammer te sê – al was ek nie alleen verkeerd gewees nie. Ek vergewe baie makliker, omdat ek die vyand geen vatkans in my lewe wil gee nie. En ek kies om geen bitterheid in my lewe te kweek nie, maar die vrede van God my doelwit te maak.
Word dus ’n vredemaker deur weg te kyk van jou eie selfsugtige behoeftes en jou oë op God te plaas. Hy is soewerein en kan namens jou jou saak beveg. Maak vrede jou hoofdoel en selfs in uitdagende situasie kan ek jou waarborg, jy sal waarlik gelukkig kan leef! Sterkte!
Vader God, baie dankie dat U aan my vrede gee wat alle verstand te bowe gaan. Help my om nie langer ’n wrok te koester of kwaad met kwaad te vergeld nie, maar om die oordeel aan U oor te laat en vrede my doelwit te maak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, spreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms is beskikbaar by Kalahari.net en ook toonaangewende boekwinkels.