Vers n dag - 27 Julie 2012
HUIDIGE REEKS: LEEF GELUKKIG... VANDAG
DAG 20: LEEF GELUKKIG... WANT GOD IS NABY AAN ONS IN ONS NOOD
Deur Benescke Janse van Rensburg
[Agtergrond: God doen vandag steeds wonderwerke. Hier is drie lesers wat daarvan getuig. Deel gerus jou getuienis by
Leser 1, Louise: “Verlede jaar op 9 Junie wou ek selfmoord pleeg. Ek was op pad van Witbank na Bedfordview. My huwelik was nie op goeie voet nie en ek was net moeg vir alles en almal. Ek het vier kinders – ’n dogter van 17, ’n seun van 12 en ’n identiese tweeling van 2 jaar oud. Op die pad het ek geweet dat dit nou of nooit is. Ek het my veiligheidsgordel losgemaak en vinniger begin ry. Die laaste keer wat ek op die snelheidsmeter gekyk het, het ek 210km/h gery. Ek wou agter teen ’n groot vragmotor vasry om te verhoed dat ’n ander motoris se lewe ook geneem word.
Dit was nie lank voordat ek die eerste trok langs die pad gesien staan het nie. Ek het versnel en reguit op die trok afgestuur. Net voordat ek die trok tref het my tweeling se gesigte voor my verskyn. Ek het uitgeswaai en die vragmotor letterlik met millimeters gemis.
’n Paar kilometer later het nog ’n trok langs die pad gestaan. Weer het ek versnel. Die keer, net voordat ek die trok tref, het ek die groot pienk woorde op die agterkant van die trok gelees: “Driving for Jesus.” Ek het uitgeswaai en weer die trok net-net gemis. Ek het langs die pad tot stilstand gekom en besef dat God my deur sy genade gekeer het om my eie lewe te neem.
Vandag sidder ek om te dink dat my kinders ooit sonder my moes grootword. Ek dank God dat Hy my nooit verlaat of in die steek gelaat het nie. In Hom is daar altyd hoop al voel jy hoe moedeloos!”
Leser 2, Ludrick: “My dogter Thearine was twee maande gelede in ’n baie groot motorongeluk. Sy het ernstige hoof- en interne beserings opgedoen. Toe die dokter die eerste keer met ons praat kon ek sien dat hy nie veel hoop gehad het dat sy sal leef nie.
Ek en my vrou het onophoudelik gebid en vir God gevra om ons dogter te genees. Die breinchirurge van die Medi-Clinic, Bloemfontein het vroeër die jaar ’n breinmonitorapparaat aangeskaf wat ’n pasiënt met breintrauma se brein se druk, temperatuur en suurstofvlakke meet. Thearine was die eerste pasiënt wat aan die masjien gekoppel is.
Op die vyfde dag ná die ongeluk het dit baie sleg met haar gegaan. Die dokter het ons ingeroep en gesê ons moet vir haar bid en seker maak dat sy na die regte plek gaan as sy sterf. My reaksie was dat God haar nie sovêr gebring het om haar te laat sterf nie. Ons het aangehou om langs haar bed te waak in gebed. Teen tienuur daardie aand het haar kondisie gestabiliseer.
Die volgende dag het die dokter vir ons gesê dat as sy nie die monitor gedra het nie, hulle die masjiene sou afgeskakel het aangesien haar lesings met tye tien keer hoër was as wat dit moet wees.
Ons Vader het ons kind aangeraak en haar genees. Vandag loop sy self (al is dit nog met krukke) en haar breinfunksie is volkome normaal. Waarlik, niks is vir Hom onmoontlik nie!”
Leser 3, Marina: “Vroeër vanjaar was ek, my man en my suster in Pringlebaai vir die naweek. Die Saterdagoggend het ons besluit om in die see te gaan swem. Ons het besef daar is groot moeilikheid toe ’n sterk seestroom ons van die strand af begin wegtrek. Ek het paniekerig begin raak en teen die stroom probeer uitkom, maar dit het my net moeg gemaak en ek het begin water sluk.
My man het strand toe geswem om hulp te gaan kry terwyl hy na my en my suster skree om kalm te bly en te dryf. Ek het op my rug gedraai en opgekyk hemel toe terwyl ek vir God gevra het om my en my sussie te red. Twee mans het van die strand af ingehardloop om ons uit die water te kom red. Ek weet nie eens wat hulle name is nie, maar ek weet dat God hulle gestuur het om ons te help. Ons het later gehoor dat iemand wel daardie dag verdrink het en dit het ons hard getref met die wete dat dinge anders kon gewees het.
Ek loof en prys die Here, my Redder en ek besef dat Hy ons gespaar het om vir almal van sy grootheid en liefde vir ons te vertel. Prys Hom!”
Hierdie drie lesers is reg. God is by ons in die mees uitdagende situasies in ons lewens. In Deuteronomium 31:8 lees ons: “Die Here sal voor jou uit gaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie.” En in Deuteronomium 33:27: “Die ewige God is 'n skuilplek, sy arms is altyd onder jou.” Maak Hom daagliks deel van jou lewe en weet verseker: Hy sluimer en slaap nooit nie! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek in elke situasie na U kan kom met die wete dat U my beskerm. Lei my en my geliefdes vandag om bewus te wees van u teenwoordigheid rondom ons. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, spreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms is beskikbaar by Kalahari.net en ook toonaangewende boekwinkels.
- Kyk na ’n foto’s van lesers op die sosiale netwerk, FBook se STORIES VAN HOOP bladsy.