Vers n dag - 26 Julie 2012
HUIDIGE REEKS: LEEF GELUKKIG... VANDAG
DAG 19: LEEF GELUKKIG... IN TYE VAN GROOT BESLUITE
Deur Benescke Janse van Rensburg
Ná Dag 17 se dagstukkie waarin ek beklemtoon het dat God vir ons deure in ons lewens oop- of toemaak om ons te beskerm, het heelwat lesers gevra hoe hulle kan verseker dat hul besluite in lyn met God se wil vir hulle lewens is?
Die meeste van ons het al op een of ander stadium in ons lewens ’n punt bereik waar ons groot besluite moes neem terwyl ’n gevoel van besluiteloosheid skielik dreig om ons te oorweldig. Dalk was dit ’n besluit in die werkplek, jou besluit om verloof te word, om na ’n ander stad te verhuis, om jou kinders na ’n ander skool te verskuif of selfs iets klein soos watter foon jy moet kies toe jy na ’n nuwe een kon opgradeer. Geen besluit is ooit vir God te groot of te klein dat ons Hom daarin kan raadpleeg nie.
Die vraag is egter: Raadpleeg jy Hom vóórdat jy die besluit neem of lig jy Hom bloot daarna in, in die hoop dat Hy dit sal seën? Dink vir ’n oomblik mooi oor die saak: Vra jy sy raad of lig jy Hom bloot in?
In Lukas 11:9 sê Jesus vir sy dissipels: “Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word.” Die groot probleem is egter dat ons nalaat om God deel van ons besluite te maak en daarom lees ons in Jakobus 4:2c: “... julle het nie, omdat julle nie bid nie.”
Hier is drie stappe wat jou besluitnemingsproses in die toekoms kan vergemaklik:
STAP 1: VRA GOD OM JOU TE LEI
In Spreuke 3:5-6 lees ons: “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.” En in Jakobus 1:5 lees ons: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” Ons kan dus verseker weet dat God aan ons wysheid kan en wil gee – ons moet Hom net daarvoor vra.
STAP 2: LUISTER NA DIE HEILIGE GEES SE STEM
In Jesaja 30:21 vind ons die versekering dat die Heilige Gees met ons sal praat: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ’n stem (die Heilige Gees) hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’” Hoe meer tyd ons in God se teenwoordigheid spandeer, hoe duideliker gaan ons sy Heilige Gees se stem leer ken. As jy nog onseker is of dit Hy is wat met jou praat, skryf wat jy in jou hart ervaar neer en meet dit aan die skrif. Die Heilige Gees se leiding is altyd in lyn met God se Woord.
STAP 3: VERTROU DIE VREDE IN JOU HART
God lei ons met vrede in ons harte. Die vyand gebruik twyfel as sy wapen. As ons God dus vir wysheid gevra het en glo dat sy Heilige Gees ons lei, moet ons waak dat twyfel en vrees nie ’n houvas op ons harte kry nie. In Jakobus 1:6 lees ons immers: “Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word.” As ons dus onrustig voel voor groot besluite, kan ons vir God vra om aan ons te openbaar of ons onrustigheid ’n waarskuwing van Hom af is en of dit bloot die vyand is wat ons wil laat twyfel.
Kom ons kies om God vooraf te raadpleeg eerder as om Hom bloot van ons besluite in te lig. En as ons uit onkunde verkeerde besluite geneem het, is ons lewens nie verby nie. God is genadig. As ons met ’n opregte hart na Hom toe gaan en Hom vra om ons te lei, mag ons dalk net beleef hoe Hy ’n slegte situasie in ’n regte situasie omdraai. Hy ken die toekoms en ons kan met ’n geruste hart op Hom vertrou. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U die toekoms ken en my deur u Heilige Gees waarsku en lei om verby die slaggate op die regte pad te stap. Help my om daagliks meer sensitief vir u stem te word. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, spreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms is beskikbaar by Kalahari.net en ook toonaangewende boekwinkels.