Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wat begryp ons van God - 1 September 2026

Ben Fourie
 
Wie is dit wat u bedoelinge wou dwarsboom sonder dat hy die insig gehad het? Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: u wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie. Job 42:3, 1983-vertaling
 
ʼn Mens kan nie anders as om volkome met Job saam te stem wanneer hy sukkel om God en sy wonderdade te verstaan nie. Ons sukkel almal om werklik te begryp wie en wat en hoe God is. Ons dink en praat in gebrekkige mensetaal oor God. Daarom bly ons steeds rondsoek na Hom wat soveel groter en anders is as ons, eintlik soveel groter en anders as wat ons enigsins met ons menslike verstand kan bedink.
 
Om Hom hoegenaamd te verstaan moet ons ten einde laas maar na eienskappe of kenmerke, wat vir ons op menslike vlak bekend is, in die Bybel gaan soek. Dan kan ons aan God eienskappe of kenmerke toeken wat binne ons begripsveld val. Ons gebruik woorde soos almagtig, alwetend, alomteenwoordig en nog baie ander waarna ons hierdie maand gaan kyk.
 
Baie van die woorde of eienskappe staan nie so in die Bybel nie, maar is skeppings in mensetaal om iets van God te probeer verstaan.
 
Soos Job hier sê, kan ons planne en skeppings om God te verstaan dalk selfs sy bedoelinge dwarsboom. Ons praat immers ook oor dinge wat ons nie volkome begryp nie, maar daarsonder sal ons nooit meer van God verstaan nie, so ons moet na die beste van ons vermoë probeer, al oorvleuel die eienskappe soms ook.
 
Dwarsdeur die verhaal van die Bybel ontmoet ons mense en sien dinge gebeur wat lig werp op God en ons help om iets te verstaan van wat Job hier God se wonderdade noem. Ons gaan by elke eienskap of kenmerk van wie God is ʼn vers uit die Ou Testament en een uit die Nuwe Testament gebruik. Mense in die Ou Testament het anders gedink as die in die Nuwe Testament en ons in 2026 dink anders as die mense van duisende jare gelede. Hierdie verskillende denkwyses gee aan ons ʼn groter verstaan van wat ons met al God se eienskappe bedoel en op die ou end dink ons almal saam oor wie God is.
 
Gebed: Ons Hemelse God en Vader, help ons om meer van U te verstaan sodat ons U al beter kan leer ken. Amen
Next article: Lewend vir God: 'n Hart wat reg is met Hom - 31 Augustus 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.