God as Persoon - 2 September 2026
Ben Fourie
Die Here het verder gesê: "Maar hier by my is ʼn plek waar jy op die rots kan staan. As Ek in my magtige verskyning verbykom, sal Ek jou eers in ʼn rotsskeur sit en jou met my hande toemaak totdat Ek verby is. Dan sal Ek my hande wegvat sodat jy My van agter kan sien. Niemand mag My gesig sien nie." Eksodus 33:21-23, 1983-vertaling
Onmiddellik is ek deur die Gees meegevoer. Ek het gesien daar staan ʼn troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand. Sy voorkoms was soos opaal en karneool. Om die troon was daar ʼn reënboog soos smarag.” Openbaring 4:2-3, 1983-vertaling
Moses en Johannes. Twee mense wat meer as ʼn duisend jaar uit mekaar geleef het, maar op ʼn besondere manier God as “Persoon” beleef het. ʼn Mens het iewers in jou kop die beeld van God soos Michelangelo Hom in die Sistynse kapel in Rome uitgebeeld het. Natuurlik weet niemand hoe God lyk nie, maar wat ons uit hierdie en ander verse kan aflei, is dat Hy ʼn “Persoon” is.
Die gebeure van ons eerste teksvers vind plaas ʼn paar honderd jaar nadat die Israeliete in Egipte aangekom het. Tydens die verblyf was hulle blootgestel aan ʼn totaal nuwe leefwyse en talle nuwe gode. Moses self het in die paleis van die farao grootgeword. Sy eerste ontmoeting met God is by Horeb wat net ʼn ander naam is vir berg Sinai. By Horeb sien Moses net ʼn brandende bos, maar by Sinai sien hy God as Persoon.
Wanneer Johannes op die eiland Patmos deur die Gees meegevoer word, sien hy ook Iemand wat op die hemeltroon sit. Die Bybel vir Almal vertaal Openbaring 4:3 as: “Die Persoon op die troon het gelyk soos ...” Die Persoon of Iemand skitter soos die verskeie halfedelstene wat hier genoem word.
Albei van hulle sien God dus as ʼn “Persoon”. Hoekom is dit so belangrik dat ons aan God as Persoon dink en nie net as ʼn Wese nie? Omdat hy homself so in die Bybel openbaar om ons te help om met hom kontak te kan maak. Dit is presies wat Hy hier in Eksodus en Openbaring doen.
Ons as mense sou baie moeiliker by God aanklank kon vind as ons net aan ʼn onsydige Wese moes dink. Die naaste wat ons aan God kom is juis wanneer Hy in Persoon as Jesus Christus op aarde tussen ons kom woon. Dit is dan wanneer ons sy heerlikheid van naby sien. (Lees: Johannes 1:14)
Gebed: Ag Here, ons is so dom in ons verstaan van U. Help ons deur die Woord om U as ʼn Persoon te ervaar. Amen