Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Lewend vir God: 'n Hart wat reg is met Hom - 31 Augustus 2026

Louise Gevers
 
Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart vir U aanvaarbaar wees, Here, my Rots en my Verlosser. Psalm 19:14, 2020-vertaling
 
Wanneer jy vroeg op 'n Maandagoggend wakker skrik, nog deur die slaap, waaraan dink jy eerste? Soms is dit gedagtes en gepaardgaande angs oor wat die week inhou wat in hierdie oomblikke van ontwaking navore kom.
 
Maar dikwels deur ons onderbewussyn tree God na vore – met 'n inspirerende teksvers of lied – en ondanks jou slaperigheid word jou gees met blydskap vervul, genoeg om jou deur te dra solank as jy toelaat dat Hy die fokuspunt is, "die bepeinsing van [jou] hart" en dan sal jy sy vrede ervaar terwyl Hy jou vir die dag voorberei.
 
Dit waarop ons harte fokus, is altyd belangrik want dit vorm ons gedagtes. Wanneer gedagtes posvat het hulle 'n manier om in ons woorde en aksies na vore te tree. Daarom word ons daaraan herinner om 'n wag voor ons mond te sit en ons gedagtes weg te hou van verkeerde dinge – want, soos Jeremia sê: "Die hart is bedriegliker as alles; dit is ongeneeslik." (Jeremia 17:9a) Die Here deursoek die hart en verstand en laat elkeen kry wat hy verdien volgens wat hy doen. (Lees: Jeremia 17:10)
 
Wanneer ons ons sonde voor God bely, erken ons dat ons teen Hom gesondig het – in gedagtes, woord en daad en in dit wat ons nagelaat het om te doen. 'n Hart wat reg is met God stop nie by sondebelydenis nie – dit word weerspieël in hoe ons ander behandel: afsien van 'n wrok, weier om wraak te neem, om te kies om genadig te wees eerder as om 'n persoon kwaad aan te doen.
 
Om lewend vir God te wees beteken dat ons ingestel is op die leiding van die Heilige Gees wat ons help om ons allerbeste in alle dinge aan Hom te gee, woorde te uiter en gedagtes te hê wat Hom waardig is, en ons bewus te hou van die feit dat sy vlag in ons harte wapper sodat die wêreld sy liefde kan sien op die manier hoe ons leef, werk en ons sake doen. Soos Jesus Christus eens en vir altyd vir ons sonde gesterf het en nou vir God leef, "beskou julleself dan so dat julle in Christus Jesus dood is vir die sonde, maar lewend vir God." (Romeine 6:11)
 
Om lewend vir God te wees beteken meer as om vergifnis te ontvang, dit beteken dat dit ook ander moet insluit. Jesus het sy dissipels geleer om te bid: "En vergeef ons ons skulde, soos ook ons hulle vergeef wat teenoor ons skuldig staan." (Matteus 6:12) Aangesien ons so volkome vergewe is, hoe kan ons vergifnis van ander weerhou?
 
Philip Yancey sê: "the only thing harder than forgiveness is the alternative.” [Die enigste ding moeiliker as vergifnis is die alternatief. – vrye vertaling]
 
'n Geslote, bitter hart mag miskien soos selfbeskerming voel, maar dit vergiftig stadig maar seker die eienaar daarvan. Paulus verwys na wyse, konstruktiewe gedrag – aanneemlik voor die aangesig van God – wanneer hy die Efesiërs waarsku om nie die Heilige Gees te bedroef nie, maar eerder "goedgesind teenoor mekaar [te wees], met innige meelewing, terwyl julle mekaar vergewe, soos God in Christus julle ook vergewe het." (Efesiërs 4:30,32)
 
Gebed: Here, my Rots, maak my lewendig vir U. Gee dat my hart sal oorloop met u liefde, en dat ek altyd gewillig sal wees om ander te vergewe soos U my vergewe het. Amen
Previous article: Wat begryp ons van God - 1 September 2026 Prev Next article: Lewend vir God: Leef in die lig - 28 Augustus 2026 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.